PIENKVOETJIES: Sussies se geluk dubbeld

Lindie Miller en haar suster, Trudie van Wyk, verskil nou wel agt jaar, maar hulle is baie geheg en beste vriendinne.

POLOKWANE – Lindie Miller en haar suster, Trudie van Wyk, verskil nou wel agt jaar, maar hulle is baie geheg en beste vriendinne.

Heel toevallig vier hulle ook verskeie mylpale saam. Soos om saam kinders te hê. Amper vier jaar gelede is beide se oudste kinders gebore met ‘n sowat driemaande-verskil, en ‘n paar weke terug is hulle jongstes slegs dae uitmekaar gebore.

“Dit is heel toevallig dat dinge so gebeur het,” vertel Lindie wat getroud is met Pieter. Lindie se jongste, Ziean is agt weke oud en het 3,14kg by geboorte geweeg. Hy was 48cm lank. Naarheid aan die begin van die swangerskap was ‘n teken dat sy dalk swanger was, vertel sy.

Die goeie nuus het sy heel eerste met haar man gedeel. En daarna? Wel, Trudie natuurlik!

Trudie is getroud met Johan en het vier dae voor Ziean se geboorte, die lewe geskenk aan JW. Hy was 49cm lank en het 3.66kg geweeg.

Die susters het tot hul ooievaarstee so saam-saam gehou en vertel van al die “konkoksies” wat hulle moes drink om dit deur te sien. Alhoewel die twee sussie saamstem dat hulle mans hulle die meeste tydens die swangerskappe ondersteun het, is die ondersteuning wat hulle van mekaar gekry het, ook onskatbaar. “Ek het vreeslik gesukkel met sooibrand en oggendnaarheid asook infeksie en lae rugpyn. Lindie het weer gesukkel met galstene,” vertel Trudie, “ons het mekaar maar deurentyd bly moed inpraat”. Lindie lag en vertel dat sy wat ‘n vleisliefhebber is, in ‘n stadium tydens die swangerskap nie wou vleis eet nie.

Trudie het op haar beurt weer ‘n liefde vir komkommer ontwikkel, met asyn, en suurlemoene en sout.

Lindie het nou wel nie enige kosdrange gehad nie, maar vertel haar man het wel begin “smag na sjokolade en aartappelskyfies”.

En uitdagings met hul tweede kinders?

“My grootste uitdaging was om vir JW medisyne te gee wanneer dit nodig is,” vertel Trudie. Lindie erken dat die badproses vir haar baie moeilik is, maar dat dit elke dag makliker raak.

Beide sussies wou vooraf weet wat die geslag van hul babas was sodat hulle hiervoor kon beplan, maar op die ou end, “het dit nie saakgemaak of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie was nie”.

Exit mobile version