BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Renoster vastrek is nie kinderspeletjies nie

READAKTEUR SE INK

DIS vroegoggend en die bosveldsonnetjie speel nie met my en Marcelle Maritz, bestuurder van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging, waar ons by die kruising geduldig saam met ‘n wildsboer sit en wag vir die helikopter en veearts.

Ons is hier om eerstehands te ervaar hoe ‘n renoster gesoek en teruggebring word na die safari- en jagplaas waar sy vanoggend dou voor dag uitgebreek het. Die renoster is duidelik opsoek na haar kalfie wat van haar geskei is, sê die jong boer. Taxibestuurders en motoriste het haar reeds ligdag langs die pad gesien en die polisie gekontak. Haar spore is nog vars en dit is belangrik om haar so gou moontlik op te spoor. ‘n Renoster beweeg vinnig en as sy eers uit die oog is, raak die soektog moeiliker en die moontlikheid van renosterstropery groter. Renosterstropery is ‘n taai tameletjie en die boer vra dat ek geen foto’s neem wat hom of die bestemming kan identifiseer nie.

Die helikopter land in die stofpad, die trok met vanghok daag op en kort daarna kom die veearts aangejaag. Dan begin alles in erns. Die helikopter vertrek met die veearts aanboord wat die renoster met ‘n pyl vanuit die lug gaan verdoof. Ons kyk, luister en wag in spanning terwyl die helikopter sirkel en soek. Ons eien daar doer ver die plek van die pad af, toe die helikopter effens draai en sak.

Dan gebeur alles vinnig. Die helikopter is terug en land. Ons spring saam die wildboer en sy werkers in sy bakkie en jaag verwoed die pad af, dan veld in soos wafferse formule een-jaers in bosmondering. Dis oor klippe wat vir my soos berge lyk, deur dongas en plekke waar geen pad nog ooit sy merk gemaak het nie en ‘n ou moet vashou en klou terwyl die adrenalien pomp. Die trok met die vanghok raak weg agter ons. Die kolossale dier lê in die veld al bewend op haar een sy. Sy word met lang stroke materiaal geblinddoek en twee van die werkers se laphoede word sommer in haar groot ore gedruk. Die veearts beduie dit is sodat sy nie verwilderd raak as sy stemme sou hoor nie. My kamera werk oortyd.

Met al hul krag sak die wildsboer en sy werkers oor die renoster om haar op haar voete te probeer kry. Dit vat ‘n man en nie ‘n muis om hierdie dier regop te kry en tyd hardloop uit hier tussen die stof en doringbome. Die manne praat, vee die sweet af, rus vinnig en probeer weer en weer en weer. Tou opgooi is nie ‘n opsie. Dan sak die span weer vooroor en gooi hul gewig behoorlik in, die dier se poot word reggedraai en toe begin sy haar lyf stadig oplig. Sy staan.

Nou moet sy omgedraai en daar ver na onder gelei word waar die trok wag omdat hy nie verder deur die ruie bosse kon ry nie. Die soekspan kry ‘n tweede asem en beur vorentoe saam met die dier. Daar word getrek en gestoot. Dit gaan bitter stadig, voetjie vir voetjie tussen die digte bosse en droë rooi stof onder al die voete.Die groot dors oorval almal terwyl die sweet tap. Die veearts is heeltyd by om na die renoster se welstand om te sien. Dan is die trok daar met die vanghok wat gereed staan.

Die renoster word binne-in gestoot, die deur toegemaak en die hok gehys tot bo-op die trok, gereed om terug te gaan huis toe. So ‘n reddingsoperasie kos baie geld, maar was die moeite werd, sê die wildsboer terwyl hy weer seker maak sy versekering is in plek.

Doodgewone water het nog nooit so lekker gesmaak nie en met moeë voete, seer lywe en rooi gebrande gesigte het ons aanstaltes gemaak. Dit was ‘n wonderlike belewenis om te sien hoe mens en dier saamspan in die beeldskone bosveld natuur.

Related Articles

Back to top button