Oppermans gaan Moedersdag dié Sondag behoorlik vier

Hannes Opperman, 'n bekende in eiendomskringe in die dorp, en sy vrou, Liezel sien uit na 'n behoorlike Moedersdag hierdie Sondag.

POLOKWANE – Hannes Opperman, ‘n bekende in eiendomskringe in die dorp, en sy vrou, Liezel sien uit na ‘n behoorlike Moedersdag hierdie Sondag.

Hul seun Niel, nou 13 maande oud is die rede hiervoor.

Verlede jaar se Moedersdag was maar kort op die hakke van sy geboorte, en vanjaar, sê Liezel, kan sy nie wag om te sien wat Hannes vir hulle drie gereël het nie.

“Hannes is nogal romanties en ek sien uit om te sien wat hy in die mou voer,” vertel sy.

Op sy beurt vertel Hannes sy sal maar moet wag… en sien.

Die egpaar meen hul woelwater is beslis die kersie op hul geluk:

“Hy gee ‘n mens die geleentheid om ‘n ouer te wees. Daar is ‘n nuwe doel in jou lewe, en jy leer om dinge onvoorwaardelike en onselfsugtig te doen.

Hul seun se naam, Niel, het so uit die bloute uit by hulle aangekom, vertel hulle.

“Liezel het een oggend wakker geword met die naam in haar kop.

“Later dieselfde dag, toe ons vir ‘n skandering van die baba gaan, het Niel met sy hande so bo sy kop gelê,” vertel Hannes.

Die dokter het die opmerking gemaak dat dié seuntjie, beslis ‘n kampioen is.

“Ons het gaan naslaan en uitgevind die naam ‘Niel’ beteken ‘kampioen.”

So gesê, so gedaan.

Liezel is tans nog ‘n tuisblyma, “totdat Niel so drie jaar oud is”.

Hierna sal hulle hom by ‘n kleuterskool inskryf.

Die egpaar is al ‘n dekade saam, waarvan hulle die afgelope ses jaar getroud is.

“Ons het nou selfs meer respek vir ons ouers, nou dat ons self daardie pad stap. ‘n Mens sien nou waardeur hulle is,” vertel Hannes.

Liezel sê sy geniet moederskap baie, en dat dit veral haar drie susters is wat vir Niel behoorlik bederf.

Vir Liezel as vrou en ma is hy bitter dankbaar, vertel Hannes.

“Ek sê altyd ek het ‘n wonderlike vrou wat baie mooi na Niel kyk.

“Sy sal altyd in die oggende opstaan vir Niel sodat ek bedags my werk as eiendomsagent kan voortsit.”

Die egpaar maak tussendeur darem ook steeds vir mekaar, met “oupa en ouma wat so ‘n ogie oor Niel kan hou”.

Exit mobile version