Editor's choiceLocal NewsNews

Magdaleen de Klerk: visie en vuur

Is die stad se bekwame familieregkenner, Magdaleen de Klerk kyk, dalk op pad om die eerste vroulike regter in Polokwane te word, en dit by die nuutopgerigde hoërhof?

POLOKWANE – Is die stad se bekwame familieregkenner, Magdaleen de Klerk kyk, dalk op pad om die eerste vroulike regter in Polokwane te word, en dit by die nuutopgerigde hoërhof?

Die 48-jarige prokureur van Polokwane het reeds verlede jaar ‘n paar weke lank as regter in Pretoria by die Gauteng-Noord hoërhof waargeneem, en van die 21 sake wat sy daar hanteer het, is daar een op appél: ‘n saak oor waterregte, wat eintlik buite haar daagse veld (familiereg) val.
En, nadat sy eers vakansie in Rusland gaan hou, is die vooruitsig daar om weer vir ‘n volle tien weke in Pretoria as regter te dien – dit op uitnodiging van die aanbevole regterpresident van Limpopo, regter Mampuru Makgoba. (wie gesê het sy gaan net moeilike en betwiste sake, bestrede mosies waarneem “om ondervinding op te doen”.)
Daar kan bloot gespekuleer word oor of dit nie dalk ter voorbereiding is vir die opening van ons stad se eie hoërhof nie. Hier sal minstens vyf regtersposte wees, aanvanklik, wat gevul moet word.
Magdaleen se oë blink as sy sê: “ Ek het ‘n passie vir wat ek doen. Ek sou jok as ek sê ek wil nie ‘n regter word nie, maar dis nie ‘n obsessie nie. Solank ek ‘n verskil kan maak en ‘n glimlag op iemand se gesig plaas is ek gelukkig. Om regter te wees sal ‘n bonus wees. Dit is die waardigste beroep op aarde. Maar dis baie harde werk, daar is groot druk.”
Sy vertel van haar 18-uur lange dae toe sy in Pretoria as regter waargeneem het.
”Teen twee-uur die oggend, as ek op kantoor kom, is net die sekuriteit daar. Teen sewe-uur kom die skoonmakers en dan die ander mense wat in die hofgebou werk. As regter het jy ‘n baie verantwoordelike werk, en is jy so alleen. Niemand het toegang tot jou kantore nie, behalwe ander regters, en as ek naweke terugkom Polokwane toe het ek stapels werk gehad om te doen. Elke saak waaraan jy werk vorm die reg, jy interpreteer die reg en kan ‘n ongelooflike verskil maak.” Een van haar uitsprake as regter is ook in die “Law Reports” gepubliseer, wat regters gebruik as riglyne.
Magdaleen werk reeds elke dag ‘n sestien-uur dag hier in Polokwane: Net na twee in die oggend lui haar wekker en dan gaan sy kantoor toe. “Sommer so sonder om tande te borsel en hare te kam of koffie te drink. Dit doen ek so tussenin voor die kantoorpersoneel opdaag vir werk. Dis die lekkerste tyd en ek kan ongestoord werk, sonder onderbrekings.” Teen sesuur saans keer sy huiswaarts en gaan vroeg bed toe. Om regter te wees, vra ‘n nóg langer dag. Maar haar werk is haar passie.
Magdaleen het onlangs die 2014 LexisNexis prys gewen vir ‘n artikel wat sy geskryf het vir De Rebus, ‘n tydskrif vir regsgeleerdes, en in Maart vanjaar het nog ‘n artikel wat sy vir De Rebus geskryf het, voorbladstatus gehaal: die artikel oor “spousal maintenance” is met ‘n humoristiese skets van ‘n troukoek en die een lid van die egpaar wat die ander lid jaag met die woorde: “Give the money, honey,” geïllustreer op die voorblad. “Ek kry nie eintlik tyd vir artikels skryf nie,” vertel die besige vrou. “Die artikel waarmee ek die prys gewen het, het ek geskryf tydens siekverlof na ‘n operasie laasjaar. Dit gaan oor verbeurtverklaring en mense verstaan nie die konsep nie. Ek was baie verbaas en nederig toe ek hoor van die prys. Dit was lekker om die erkenning te kry, maar ek voel skaam om daaroor te praat.”
Magdaleen is reeds vir 22 jaar in ‘n privaat praktyk in Polokwane. Sy praat met groot lof van die goeie ondersteuningsraamwerk van haar vennoot Benno de Klerk en haar pa, die personeel en gemeenskap in die stad. Haar werk is haar erns, en as ‘n kliënt nie ‘n saak het nie, sal sy hom/haar dadelik so inlig. “Ek werk met mense se emosies, en sien hulle op hulle weerloosste. Mens moet eerlik wees met die kliënte, empatie hê, maar nie persoonlik betrokke raak nie.”
Vir iemand wat in die regte wil studeer sal sy sê ‘n aanvoeling vir taal is baie belangrik. “En ek sien baie van ons jongmense is só statusbewus!
Hulle wil ‘n duur Duitse motor koop as hulle afgestudeer het. Ek het vir jare ‘n ou 1400 bakkie gery wat aan die firma behoort het!”
Wanneer sy ontspan hou sy daarvan om te lees en na musiek te luister – enige soort, maar sy hou veral van rock. Sy kuier graag by haar pa, vir wie sy groot respek het, en reis ook graag.
As sy kon kies sou sy haar lewe net so wou oorhê.
“Hartseer dinge het gebeur, maar dit gaan uiteindelik nie oor sukses in die lewe nie, maar oor geluk. Sonder geluk is jy niks,”
Waar woorde van ‘n waardige vrou.

VIDEO INTERVIEW: Local lawyer wins coveted prize

Related Articles

Back to top button