Wanneer kuns help ontvlug

"Kuns stimuleer die skeppende gedeelte van die brein wat help dat mens wegkom of ontvlug van analitiese denke wat soms uitputtend en stresvol kan wees"

POLOKWANE – Kuns, in enige vorm, word dikwels deur terapeute aanbeveel as terapie vir mense wat sukkel met emosionele kwessies.

Drie kunstenaars wat deel is van die Polokwane Depressie en Angs Ondersteuningsgroep, het onlangs besluit om hul kunswerke uit te stal.

Die uitstalling is op Vrydag, 17 April by Genl. Piet Joubert Skool gehou. Die kunstenaars is Willie van der Merwe, Elna le Roux en Trevor le Roux.

Elk van hulle het sowat 30 stukke uitgestal wat te koop was. “Ek is heel tevrede,” vertel Willie, wat die geleentheid georganiseer het, “hier was meer mense as wat ons verwag het”. Willie is ‘n voltydse kunstenaar wat, behalwe vir skilder, ook berigte skryf oor die natuur vir ‘n internetwebbladsy.

Trevor het onlangs afgetree en hy en sy vrou, Elna, sorg nou voltyds vir hul outistiese dogter. Trevor vertel dat in tye van erge depressie, die skilder hom baie help. Ook vir Elna is skilder ‘n uitlaatklep. Willie ly wel nie aan depressie nie, maar ly ook aan ‘n geestestoestand.

“Om te skilder help my in my ‘af tye’. Dit is beslis goeie terapie.” Zelda Buitendag, ‘n plaaslike sielkundige, meen kuns is ‘n goeie vorm van ontvlugting.

“Kuns stimuleer die skeppende gedeelte van die brein wat help dat mens wegkom of ontvlug van analitiese denke wat soms uitputtend en stresvol kan wees, soos syfer en akademiese werk.

“Kuns help uiting gee aan passie. Dit bied emosionele bevrediging wat weer bydra tot ‘n positiewe selfbeeld en uitkyk op die lewe.”

Volgens Willie beplan die kunstenaars om beslis weer ‘n uitstalling te hou.

Exit mobile version