Tuinbouklublede leer meer oor daardie gezoem in die tuin…

Die Pietersburg Tuinbouklub het op Dinsdag, 20 April tydens hul maandvergadering, meer oor bye te wete gekom.

POLOKWANE – Die Pietersburg Tuinbouklub het op Dinsdag, 20 April tydens hul maandvergadering, meer oor bye te wete gekom.

Die gasspreker vir die dag was Jaco Nel van Bushveld Apiaries. Jaco het gesels oor bye, die mens se afhanklikheid van bye, verskillende soorte bye en die moets en moenies as dit by bye kom.

“‘n Werkerby besoek tussen 50 en 100 blomme per dag. Bye is wêreldwyd besig om te verminder en die byfaktor van ‘n plant hang af van die afhanklikheid van die plant. Twee saadlobbige plante is meer afhanklik van bye as eensaadlobbige plante,” vertel hy. Jaco het vertel dat daar in ‘n groot skerm sowat 150 000 bye is. Die koningin lewe drie tot vyf jaar en lê sowat 2 000 000 eiers.

“Gedurende die lente lê die koningin bevrugte eiers wat dan koninginjellie kry. Gedurende die paringsvlug soek die wyfies na mannetjies. Die hommelby is ‘n mannetjieby. Hy word gevoer deur die werkers en sy doel is om die koningin te bevrug. Sy steek hom ook dood na bevrugting.”

Werkerbye is wyfies wat nie koninginjellie gekry het om hul geslag te laat ontwikkel nie. Hulle leef 42 dae waarvan hulle die eerste 10 dae verantwoordelik is vir die kleintjies. Van dag 10 tot dag 20 is hulle besig met nesaktiwiteite en daarna word hulle veldbye. “Bye vlieg ‘n afstand van tot 14km, maar ‘n byeboer wil nie hê die nes moet meer as 500m van die naaste kosbron af wees nie.” Jaco vertel daar is regte en verkeerde maniere om bye te vang. Hy raai aan dat jy die leë byekas bo-op die motorhuis dak sit.

“In Augustus en September trek die bye rond, dan is dit ‘n goeie tyd om hulle te vang en te skuif. Die proses moet ook in die nag plaasvind. ‘n Mens moet hulle so twee weke gee om te hervestig.”

Jaco vertel dat dit gevaarlik is as ‘n swerm besig is om te trek en dat dit beter is om ‘n byeboer te kry om te help. Hy sê ook hoe gouer ‘n mens bye uit kry uit die plek waar jy hulle wil uithê, hoe beter.

“Swerms wat drie jaar en ouer is, is gevaarlik. As mens lank met bye werk, steek hulle mekaar en lok sodoende ander bye. Die temperament van die bye hang baie af van hul koningin.

“‘n By waarsku jou. Hy sal om jou kop vlieg en as jy nie weg beweeg van sy nes af nie, sal hy teen jou gesig vasvlieg. ‘n By steek net uit verdediging uit, as sy nes verdedig moet word of as jy op hom trap.” Laastens vertel Jaco dat ‘n mens nie in water moet spring as bye jou aanval nie. Klim in ‘n motor of gaan in die huis in, is sy raad.

Tuinbouklublede en gaste het na afloop van die praatjie gesmul aan heerlike eetgoed wat heuning as bestanddeel bevat het en huis toe gegaan met heuninggeregresepte.

Exit mobile version