Local NewsNews

Ongewenste gaste op jou kind se kop

Review het met Johan Holtzkampf, 'n apteker by Pharmwell Apteek Platinumpark gesels oor raad teen kopluise.

POLOKWANE – Die skool het ‘n paar weke terug begin en een middag kom jou meisiekind met die lang hare van die skool af by jou met dié woorde: “Ma, juffrou sê ma moet kyk, ek het luise”.

Jou moed sak in jou skoene, jou kind se hare is tog silwerskoon, julle was dit elke tweede dag. Dit kan dalk juis die probleem wees.

Verskeie skole in die stad het weer onlangs aan ouers kennisgewings uitgestuur dat dié ongewenste besoekers hulself begin tuismaak. Dis luisseisoen.

‘n Kopluis is ‘n sespotige parasitiese insek wat versprei deur eiers (nete) te lê en te kruip. Dit is deurskynend wanneer hy uitbroei, maar verander vinnig na ‘n rooi-bruin kleur. Hy lewe deur die kopvel te byt en bloed uit te suig en kan ongeveer 30 dae lewe op ‘n geskikte gasheer.

Review het met Johan Holtzkampf, ‘n apteker by Pharmwell Apteek Platinumpark gesels oor raad teen kopluise.

“Kopluise kom veral voor in die somermaande wanneer dit warmer is. Gewoonlik net na die skole begin het,” vertel Holtzkampf.

Hy meen ouers moet waak teen uiterste behandelings.

“Ouers moet net wegbly van boererate soos hondesjampoe. Dit is gevaarlik en daar is verskeie ander produkte op die mark wat effektief is.”

‘n Luis klou ook makliker aan skoon hare vas as aan vuil, olierige hare.

Die nete wat die luis lê, word stewig vasgegom aan die kant van die haarskag, ongeveer 1 cm vanaf die kopvel. Dis ‘n pêrelkleur voordat dit uitbroei en ‘n bruinerige kleur as dit klaar uitgebroei het. Die nete wat uitgebroei het sit nog steeds op die haar vas en moet fisies uitgekam word. Geen medikasie kan die neet penetreer nie, daar kan dus nie verwys word na dooie nete nie. Die vroulike kopluis kan tot 100 nete lê. Die eiers is klein en ovaalvormig wat wit-geel van kleur is. Die nete word met ‘n ‘gom’ aan die haarskag geheg.

Daar word ook aangeraai dat die beddegoed gereeld gewas word.

Om die lewensiklus van die kopluis te breek is gereelde behandelings binne 10 dae uitmekaar nodig. Holtzkampf beveel produkte soos Nutcracker en Licegone aan. Daar is by meeste apteke produkte beskikbaar.

Daar is ook boererate waarby ouers sweer.

Dit sluit in:

• 2 eetlepels bruinasyn

• 1 liter warm water

• 2 eetlepels olyf of klapperolie

Metode:

• Meng al die bestanddele saam.

• Smeer aan die hare en kopvel, hou aan vir die middag.

• Kam hare deeglik met ‘n fyn kammetjie.

• Was die hare en herhaal indien nodig.

• Herhaal die proses binne 10 dae.

Related Articles

Back to top button