CrimeNews

Voortvlugtige word platgetrek

'N 64-jarige boer van die plaas Dedimus naby Mookgophong het verlede Sondag vir sy lewe gestoei nadat hy oorval is deur 'n voortvlugtige.

MOKOPANE – ‘N 64-jarige boer van die plaas Dedimus naby Mookgophong het verlede Sondag vir sy lewe gestoei nadat hy oorval is deur ‘n voortvlugtige.

Louis en sy vrou die 64-jarige Eirika Van der Westhuizen is vroegoggend in kennis gestel deur ‘n getraumatiseerde huishulp dat daar ‘n verdagte man in hul kookhuis, 50m, van hul woning af wegkruip en dat hy duistere motiewe het.

“Ek het die Mookgophong polisie geskakel, waarna ek en my vrou na buite gegaan het om seker te maak die verdagte ontglip nie weer die gereg nie.

“Die man het my oorval en probeer om my pistool by my af te neem, ons het rond gestoei, hy het my gebyt, en ek het op nommer 99 ‘n skoot afgevuur gekry en hom in die skouer getref, waarna hy toe op vlug slaan,” het Louis aan die Bosveld gesê.

“Die spoorsnyers is ontbied en met ons en die Mookgophong polisie se aankoms het ons die verdagte ongeveer 200m vanaf die plaasopstal gevind waar hy deur die boere van die omliggende omgewing platgetrek is. Die spoorsnyers het die res van die plaas gaan fynkam, omrede hulle meeste van die tye in groepe aanval.

“Ons het ook verneem dat die verdagte ‘n voorvlugtige is en deel is van ‘n bende wat betrokke is by vorige rooftogte en plaasaanvalle, rapporteer Vossie Vosloo een van die spoorsnyers. Louis is slegs behandel vir ligte beserings.

Louis sê: “Die polisie het die vorige dag die werkers op die plaas se huise kom fynkam en het vragte gesteelde goedere gevind, ek vermoed dat dit dalk een van die redes is waarom die verdagte gekom het, hy wou die goedere kom haal.”

Moshati Sekanka, die ondersoekbeampte, rapporteer dat daar ‘n inbraak verlede Vrydag op een van die buurplase was en die leidrade het gelei na die werkers van die Dedimus plaas, waarna twee mans in hegtenis geneem is, hy beweer dat die verdagte deel is van hierdie span en dat die polisie besig is met ‘n indiepte ondersoek rakende dié en ander sake. Die identiteit van die verdagte word om die rede nie geopenbaar nie.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en ‘n indiepte ondersoek is geloods, ” sê Konst. George Ledwaba, woordvoerder vir die Mookgophong polisiestasie.

Die Van der Westhuizens bedank die spoorsnyers en die polisie vir hulle vinnige optrede veral vir kapt. Sekanka asook al die boere vir hul hulp en ondersteuning.

Related Articles

Back to top button