PIENKVOETJIES: Keagan, vuur en vlam vir Pa en Ma

Met 'n naam soos Keagan, wat beteken 'vurige persoonlikheid', kan hierdie sesmaande oue seuntjie nie anders nie as om 'n vreugde vir sy ouers te wees.

POLOKWANE – Met ‘n naam soos Keagan, wat beteken ‘vurige persoonlikheid’, kan hierdie sesmaande oue seuntjie nie anders nie as om ‘n vreugde vir sy ouers te wees.

Samantha en Martin Botha was oorstelp toe hulle uitvind ‘n boetie is op pad vir hul ander seun, Kyle.

Samantha vertel sy was siek en is na die dokter waar hy haar meegedeel het sy is swanger. “Ek het hom nie geglo nie, maar ‘n week later het die tuistoets dit bevestig. Ek het hom toe maar gebel en gesê hy is reg,” lag sy. Sy vertel dat Martin die eerste persoon was vir wie sy vertel het.

Hy en haar ma het haar baie ondersteun gedurende die swangerskap. Sy vertel sy was heeltyd lus vir vrugte en groente en sy sê dat vleis haar “naar” gemaak het. “Ek het buite die huis gaan sit as Martin vleis geëet het. Ek kon die reuk daarvan nie verdra nie.” Haar ooievaarstee was vir haar lekker, behalwe dat sy ‘n groot babahoed, groot baba-voorskoot en groot fopspeen moes dra. Die eerste ding wat sy dan ook vir Keagan gekoop het, was klere. Op 22 weke het sy onverwags in kraam gegaan en moes die dokters die geboorteproses onderdruk. Sy was ‘n paar dae in die hospitaal, maar is daarna ontslaan en alles het vir die res van haar swangerskap glad verloop. Keagan is egter deur ‘n noodkeisersnit gebore, het 2,3kg geweeg by geboorte en was 51cm lank.

“Ek borsvoed Keagan, en dis beslis makliker met die tweede kind,” vertel sy. Martin vertel dat Keagan ‘n droom kind is. “Hy slaap deur en huil nie baie nie. Hy het in die begin by die dagsorg nog dag en nag omgeruil, maar dit is nou weer reg.” Aan die begin was ouboet Kyle glo baie jaloers, maar nou vra hy gereeld vir Samantha waar sy kleinboet is.

“As hy groot is, gaan ons lekker by die skool speel. En by die huis ook. Ons gaan balle skop,” vertel Kyle opgewonde.

Ouerskap is vir Samantha lekker. Sy vertel dat dit lekker is om ‘n lewe te deel. “Vir my is ouerskap lekker, maar jy moet heeltyd versigtig wees. Die tipe ouer wat jy is, is die tipe kind wat jou kind eendag sal word,” vertel Martin.

Exit mobile version