Erik oor sy gewig: ‘Ek moes net iets doen’

Erik het van verlede jaar Mei besef dat hy oorgewig is en gewig sal moet verloor sodat hy meer tyd saam met sy familie kan spandeer

POLOKWANE – Pizza is ‘n geliefde ete vir baie mense.

Dit was, en is steeds, vir Erik Breedt ‘n gunsteling. Erik het egter nie te lank terug nie besluit om onder andere minder pizza te eet, al is dit sy gunsteling kos. Erik het van verlede jaar Mei besef dat hy oorgewig is en gewig sal moet verloor sodat hy meer tyd saam met sy familie kan spandeer. “Ek was as kind al vet en toe ek Corlie, my vrou, ontmoet het, was ek 25kg ligter as wat ek was voor ek met die dieet begin het,” vertel Erik waar ons in sy sitkamer sit. “Ek het agtergekom dat ek altyd uitasem was en dikwels te moeg was om iets te doen. My bloeddruk was hoog en ek het besef as ek nie iets omtrent my gewig gaan doen nie, gaan ek nie vir my familie kan sorg nie.” Erik vertel hy het verskeie diëte gevolg, maar niks het gewerk nie.

Dit het veroorsaak dat hy opgehou het met die dieet nog voor hy enige resultate kon sien. Dit is toe dat hy op Die Dieet Waarvan Almal Praat afgekom het. Hy het begin met ‘n gewig van 196,2kg en vier weke later het hy 141,6kg geweeg. “Ek het beter begin voel. Ek was nie meer aanhoudend moeg nie en my bloeddruk was stabiel. Ek het ook nou die energie gehad om saam met my kind te speel.” Erik het by ‘n gimnasium aangesluit en besluit om deel te neem aan die Biggest Loser kompetisie wat by Body Life Gym gehou is. Hy vertel dat dit baie gehelp het om hom gemotiveer te hou. “Die personeel en persoonlike afrigters by die gym het my baie ondersteun. Corlie en my familie het my ook ondersteun.” Erik het die kompetisie uiteindelik gewen en vertel dat dit vir hom groot aanmoediging was. Die geld het hy goed aangewend. Hy gaan steeds elke oggend oefen en geniet dit baie.

Hy weeg nou 136kg en vertel dat hy steeds die dieet volg.

Waar hy in die verlede gereeld pizza geëet het, eet hy dit deesdae net nou en dan.

Erik en Corlie, wat reeds ‘n dogter het, het onlangs ook ‘n seun ryker geword en Erik vertel dat die hele familie nou gesonder lewe. “Dit is lekker om nie meer uitasem te wees nie. Ek het al my groot klere weggegee.

“Nou moet ek net reg eet en gereeld oefen, anders gaan ek net weer die gewig optel.”

Hy vertel dat dit nie altyd ‘n maklike pad was nie, maar dat dit beslis die moeite werd was. Erik was vroëer jare die eienaar van Sterkloop Lapa en is tans betrokke by ‘n familiesaak.

Erik Breedt nadat hy sowat 61kg verloor het.
Exit mobile version