PIENKVOETJIES: Eersteling De Wet bring vir hulle geluk, laat familienaam voortleef

“Ons baba het gegradueer na ‘n nommer twee doek,” lees ‘n trotse ma Lizelle Coetzer se inskrywing op haar Facebookbladsy ‘n maand na die geboorte van haar en Marius se eersteling, De Wet.

POLOKWANE – “Ons baba het gegradueer na ‘n nommer twee doek,” lees ‘n trotse ma Lizelle Coetzer se inskrywing op haar Facebookbladsy ‘n maand na die geboorte van haar en Marius se eersteling, De Wet. Marius vertel dié naam is ‘n familienaam “met ‘n verskil”.

“My ma het ‘n broer wat gestremd is en sy naam is De Wet. Ons het besluit dat aangesien hy nie sy familie-naam kan voortdra nie, gaan ons die naam aan ons seun gee, en sodoende die naam laat voortleef.” De Wet is op 11 Maart gebore, het 3,88kg geweeg en was 48cm lank.

Lizelle vertel dat hulle lank voor die geboorte reeds geweet het hulle gaan ‘n seun hê en sy blou kamer het reeds vir hom gewag..

“Een van die eerste items wat ons gekoop het vir hom was ‘n mooi hout bababed. Sy eerste speelding was ‘n olifant-ratel.”

Lizelle vertel dat sy nie lus geraak het vir snaakse kossoorte op snaakse tye nie, maar dat Marius wel lus geraak het vir vreemde kombinasies soetgoed.

Hy was glo gereeld lus vir vla en Tinkies of visvingers, konfyt en kapokaartappels. Hy was ook die een wat sooibrand gekry het.

“Die ooievaarspartytjie was heel prettig. Ek en Marius was daar en hy het selfs snaaks aangetrek. Die ergste was om ‘n potjie met koeldrank gemeng met sjokolade te drink. Vir Marius was die doek wat met sjokolade besmeer was, die ergste,” vertel Lizelle. Sy vertel dat sy gedurende haar swangerskap net met geswelde voete gesukkel het en aan die begin met rugpyn.

Sy het op haar sy met ‘n kussing tussen haar bene geslaap. Die eerste ding wat sy wou weet met die jongeling se geboorte, was of hy 10 tone en 10 vingers het.

“Die grootste uitdaging na De Wet se geboorte, was om uit te vind wat verkeerd is wanneer hy huil,” vertel sy. Lizelle vertel dat sy ‘n goeie ondersteuningstelsel het.

Haar ma, ouma, skoonma, vriendinne en natuurlik Marius is almal sommer naby.

“Ons lewens het baie verander, maar ten goede. Dit is nie nou meer so maklik om net vinnig na ‘n winkelsentrum te gaan nie. Ons kuier ook eerder by ons eie huis. Ouerskap is harde werk, maar die moeite werd. Dit is ‘n groot verantwoordelikheid,” vertel Lizelle.

Exit mobile version