Local NewsNews

‘Hope’ se geskenk: aftree op 48

Anita Booysen het pas haar 48ste verjaardag gevier en haar geskenk aan haarself is aftrede. "Nie baie mense kry die kans om af te kan tree op my ouderdom nie." Anita is, nee, wás 'n prostituut.

POLOKWANE – Met die intrapslag is sy reeds ongemaklik met wat in die onderhoud voorlê – in sterk teenstelling met die soveel mans wat die afgelope 25 jaar ingestap het.

Anita Booysen het pas haar 48ste verjaardag gevier en haar geskenk aan haarself is aftrede. “Nie baie mense kry die kans om af te kan tree op my ouderdom nie.”

Anita is, nee, wás ‘n prostituut.

Haar straatnaam is “Hope”. “Ek het die naam gekies omdat ek van die begin van my loopbaan gehoop het dat ek nie lank in die besigheid gaan wees nie,” vertel sy. Sy vertel dat mans wat haar dienste kom gebruik het gewoonlik die grappie gemaak het dat hulle hoop dit gaan so goed voel soos sy lyk. Anita vertel dat sy nie beplan het om een van die ‘werkende meisies’ te word nie en dat die grootste rede waarom sy in die besigheid beland het haar swaer se invloed was. Sy vertel dat sy omtrent 18 jaar oud was toe sy die eerste keer deur hom verkrag is. “Ek kon nie met my ma of suster oor die voorval praat aan die begin nie en het in die komende jare daarna nie eers probeer om hulle te vertel nie. Ek was nie onskuldig nie en het op ‘n vroeë ouderdom in moeilikheid beland met dwelms en verkeerde vriende en teen die ouderdom van 18 kon ek nie meer in die verbetering skool bly nie en my ma was raadop,” vertel Anita.

Sy moes by haar suster en swaer gaan bly. Sy vertel dat met die tyd het die verkragting ‘n verhouding geword het. Dit was net voor haar 23ste verjaardag dat hy begin het om haar aan van sy vriende voor te stel. “Aan die begin was die dwelms die groot rede maar later het dit gegaan oor geld in die huis. Dit was my werk om te sorg dat daar genoeg is vir alles en almal.” vertel sy. Anita sê dat dit nie maklik is om die kliënte te ontvang nie en sy moes baie sterk dwelms gebruik.

Selfmoord was dikwels ‘n opsie.

Die kere wat sy opgehou ‘werk’ het, het sy net weer moes aangaan want sy het nie ‘n ander inkomste gehad nie en mans wat haar sou ondersteun en lief hê was nooit op die kaarte nie. “Ek wil ook liefde en aanvaarding kry soos enige mens, ek het net verkeerd begin en weens omstandighede het ek nie ander opsies gehad nie. Mense oordeel my en ek sou seker dieselfde gedoen het as ek hulle was, maar na al die jare ken ek myself en is ek gereed om op te hou en werklik te lewe.”

Sy vryf oor die bloukolle op haar arms, wat sy as ‘aandenking’ van ‘n kliënt gekry het, en vertel dat haar uitkoms niks meer as die een ding is wat sy nooit in wou glo nie en dit is geloof in ‘n God van liefde. Die keerpunt in haar lewe het gekom sowat twee weke gelede toe een van die vroue wie se man en broer haar gereelde kliënte is, haar kom besoek het.

“Ek het verwag dat die vrou soos baie ander my gaan sleg maak, dalk aanrand en het gereed gestaan vir die aanval maar toe kyk die vrou na my en vra of ek die Here ken.”

Sy sê haar lewe het intussen onherroeplik verander. Sy het berading ontvang en staan al amper self op haar eie voete finansieel.

“Ek wil nie bejammer word nie, net mense bewus maak: Jy hoef nie jou liggaam te gee om iewers te kom nie. Dit maak jou ‘n leë dop en jy verloor die mooi in die lewe”.

“Al wat jy moet doen, is bid, en glo.”

Related Articles

Back to top button