Editor's noteLocal NewsNews

Waar kinders ander kinders hoop gee

Die kinders van Hoop vir Kinders en hul pleegouers het pas teruggekeer van wat Maryna Kruger, Hoop vir Kinders se projekbestuurder, beskryf as 'n ongelooflike ervaring.

POLOKWANE – Die kinders van Hoop vir Kinders en hul pleegouers het pas teruggekeer van wat Maryna Kruger, Hoop vir Kinders se projekbestuurder, beskryf as ‘n ongelooflike ervaring.

Hulle het in die skoolvakansie na Laerskool Louterwater in die Langkloof uitgereik en daarna is hulle na Oesterbaai waar hulle in die branders kon baljaar.

Hoop vir Kinders is ‘n organisasie sonder winsbejag wat na kinders omsien wat deur die hof uit hul ouerhuise verwyder is.

Hulle sien tans om na 14 kinders, waarvan 12 oud genoeg was om saam op vakansie te gaan.

“Langkloof was ‘n wonderlike ervaring. Ek het nie ander woorde daarvoor nie.

Die mense en kinders by Laerskool Louterwater was so dankbaar en het kort-kort gevra hoekom ons juis gekies het om hulle te help,” vertel sy.

Die kinders van Hoop van Kinders het na die skool gegaan en daar die meisies se badkamers gaan oorverf en versier, alles te danke aan skenkings.

Die leerders in die skool kom grootliks uit ouerhuise waar dit emosioneel nie goed gaan nie. Maryna vertel dat die skoolhoof vir haar vertel het dat sowat 80% van die meisies seksueel mishandel is.

“Een van ons meisies het hulle baie gemotiveer. Sy het vir hulle vertel dat dit nie saak maak uit watter omstandighede hulle kom nie, maar dat hulle hul eie pad kan volg en ‘n sukses van die toekoms maak. Sy het vir hulle verduidelik dat hulle kan kies om anders te wees.”

Maryna, wat ‘n sielkundige is, het ook trauma-bemagtiging aan die onderwysers gegee.

“Ons het op ‘n gasteplaas gebly waar die kinders pruime, pere en appels van die bome af kon pluk en eet.

“Ook het ons pakhuise besoek. ‘n Hele paar van die kinders het vertel dat dit vir hulle ‘n hoogtepunt was.” Na die besoek was Oesterbaai volgende op die reisplan.

Maryna vertel hulle kon nie genoeg kry van die branders en die duine nie.

‘n Skenker het gesorg dat hulle die akwarium in Port Elizabeth ook kon besoek waar hulle onder andere ‘n rob-vertoning kon beleef.

Daar het hulle ‘n draai gemaak by die slangpark waar hulle aan ‘n luislang kon raak.

“Ons het ook mossels van die rotse afgehaal en geĆ«et. Dit was ‘n belewenis.”

Die groep het dit soveel geniet om iets vir ander mense te doen dat hulle besluit het om in Polokwane en die omgewing dieselfde te doen deur arm skole te besoek en hul badkamers mooi te maak.

“Deur die badkamers weer mooi te maak, probeer ons die meisies se menswaardigheid terug gee.

“Dit laat ons kinders ook weer beter voel as hulle iets vir iemand kan doen,” meen Maryna.

Hoop in hul uitreik

Related Articles

Back to top button