KLEIN ONDERNEMING: Waar inlê nie laatlê is nie

Wat vir Deon de Jager, sy ma Hettie en pa Boet as 'n stokperdjie begin het, het gou in 'n besigheid verander wat voltyds bedryf word.

POLOKWANE – Wat vir Deon de Jager, sy ma Hettie en pa Boet as ‘n stokperdjie begin het, het gou in ‘n besigheid verander wat voltyds bedryf word.

Hiérdie bedryf is Chilliojam, ‘n besigheid wat die maak van konfyt, blatjang, chilliesouse en jellie behels.

Hettie het jare lank al vrugte en ander kossoorte ingelê maar verlede Januarie begin inlê met die oog om te verkoop.

Deon, wat in die modebedryf was het in Augustus verlede jaar by Hettie aangesluit. “Deon skil die vrugte, ek kook dit en Boet help met ander takies,” vertel sy. Deon het die gebottelde konfyt, sous en blatjang na ‘n vlooimark geneem en besef dit is ‘n reuse sukses.

Weekliks word daar tans nuwe kombinasies gemaak en so spog die span al met ‘n verskeidenheid van 60 soorte konfyt, blatjang, sous en jellie. “Hier is ‘n vrou wat sommer ‘n duisend bottels op ‘n slag by ons koop,” vertel Deon. “Ons begin nou eers regtig geld maak. Al ons vrugtekonfyte en jellies is seisoengebonde. Ons koop al ons produkte plaaslik aan.” Die mates sluit in 330ml, 470g en ook 125ml, spesiaal vir bejaarde persone wat alleen woon en nie in groot maat nodig het of noodwendig groot hoeveelhede wil koop nie.

Hettie-hulle se uiekonfyt is hul top verkoper, terwyl pynappel-chillie nie ver agter is nie op die gewildheidsleer. “Van die chilliesouse klink dalk of dit ‘n brandgeur het, maar dit brand glad nie. Ons het ook, nuut op die mark, ‘n driesitrusmarmelade. Ons bloubessie-konfyt kan vir verskeie goed gebruik word soos oor roomys, in gebak en ook op brood,” vertel Hettie. Vir die meer tradisionele verbruiker maak Hettie-hulle vyekonfyt en makataankonfyt (waatlemoen).

Hulle maak ook kerriekomkommer en tamarilla (boomtamaties).

“Een van ons nuwer produkte is ‘n kwepervrugtestafie.”

Hulle beplan om eersdaags aan restaurante te begin voorsien. Deon vertel hulle eksperimenteer baie om agter te kom wat hulle gewilde produkte is. “Ek het ongelooflik baie by my ma geleer en lees ook baie self op oor die onderwerp. Ek gebruik Facebook waar ek kan vrae vra daaroor,” vertel hy. Hul konfyte het op die rak ‘n raklewe van tot ‘n jaar, en ‘n sesmaande-rakleeftyd binne die yskas. Jeuk jou tong al? Skakel gerus vir Hettie by 073 889 4999 of Deon by 073 324 5140.

 

Tye is finansieel swaar deesdae, met talle inwoners wat dit moeilik vind om werk in die formele sektor te kry. Baie maak ‘n plan om ‘n ekstra inkomste te genereer deur ‘n bepaalde diens aan te bied, of produk te lewer, in die informele sektor (sommer van die huis af).
Review ondersteun hierdie pogings van mense wat hand in eie boesem steek en ons plaas graag hulle stories gratis. As jy so ‘n entrepreneur is, of van een weet, stuur ‘n e-pos aan hilda@nmgroup.co.za met ‘n kort beskrywing en kontakbesonderhede. Ons hoor graag van jou.

Exit mobile version