Sonskynkind Jassie

Die jong Justin van Tonder (11) sit gefokus voor die televisie toe ons by die sitkamer instap, maar staan onmiddellik op toe Ouma Cathy Loots met hom praat. Justin, of Jassie, soos sy familie hom noem, is outisties.

POLOKWANE – Die jong Justin van Tonder (11) sit gefokus voor die televisie toe ons by die sitkamer instap, maar staan onmiddellik op toe Ouma Cathy Loots met hom praat.

Hy groet haar vriendelik met ‘n drukkie, en ek kry op die koop toe ook een met ‘n “Hallo tannie”.

Justin, of Jassie, soos sy familie hom noem, is outisties.

Drukkies uitdeel is nie tipiese eienskappe van kinders wat aan outisme ly nie.

Ons raak gemaklik en Justin se aandag gaan terug televisie toe.

“Hy kan ure sit en televisie kyk, veral hiérdie program,” vertel Cathy, en beduie na Spongebob Squarepants. Hy geniet ook Animal Planet.

“Hy speel graag rugby saam met sy ouboet, Tristan,” vertel sy.

“Ek kan krieket ook speel. Ek speel paaltjiewagter. En ek hardloop baie vinnig met hierdie maer bene van my,” vertel die jongman.

“Ek het baie maatjies by die skool. Ons praat oor goeters van die lewe, soos wat ons eet en so aan.”

Justin is in die Kuhl Montessori Skool en die hoof daar, Petro Kuhl vertel trots dat hy “sy hart uitspeel by die skool en dat hy sosiaal baie aangepas het”.

Justin is egter nie met outisme gebore nie.

“Hy was ongeveer 18 maande oud toe sy vordering net opgehou het.

“Sy gehoor het ook verswak in die tyd. Alles was normaal en toe skielik nie meer nie.

“Ons het hom na dr. Ronel Killian, ‘n spraak- en oudioloog, geneem. Sy het vir ons mooi gehelp om baie antwoorde te kry.”

Justin se ma, Veronica van Tonder, vertel dat sy lang trane by Killian gesit en huil het.

“Die dag toe die neuroloog in Pretoria vir ons die uitslag gee was die ergste.

“Hy het nie gesê my kind is outisties nie. Hy het gesê Justin het deurdringende ontwikkelingsversteurings (pervasive developmental disorder). Ek was verpletter. Ek het vir twee weke aaneen gehuil.

“Ek het op die internet gaan kyk na wat dit is en gesien dit is outisme. Daar was nie ander ma’s wat vir my raad kon gee nie.”

Justin het voorkeure vir sekere kossoorte en Veronica vertel dat hy baie lief is vir Kentucky, kapokaartappels en brood met mayonnaise. Soms gril hy vir kos, maar Veronica koop hom om met sekere soorte springmielies.

Justin was in ‘n gewone skool, maar sy vordering was swak. Hulle het hom aanvanklik tuis onderrig.

Na baie gebede en harde werk kan hy al wiskunde doen, kleure identifiseer asook alfabetklanke, en kan hy sinne maak.

“Justin is ‘n liewe, saggeaarde kind is. Hy sal nie baklei nie en is baie eerlik. Hy huil in stories wat hartseer is. Maar tog raak hy gefrusteerd met tye.

“Hy sal, as hy dink jy lyk mooi, dit vir jou sê, maar hy sal ook vir jou vertel as jy die dag nie mooi lyk nie. Hy probeer soms jok, maar kry dit nie reg nie,” skerts sy.

Exit mobile version