Local NewsNews

Nuwe eienaars vir Sterkloop Lapa

Sterkloop Lapa is sedert 1 Maart onder nuwe eienaarskap en bestuur.

POLOKWANE – Sterkloop Lapa is sedert 1 Maart onder nuwe eienaarskap en bestuur.

Lioney Cousins en haar man Tommy, wat bekend is in die stad vir hul betrokkenheid by die gemeenskap, vertel die besluit om Sterkloop te koop was ‘n maklike een.

“Toe ons hoor Sterkloop Lapa is in die mark was dit ‘n geleentheid wat ons nie deur ons vingers kon laat glip nie. Dit is beslis ‘n goeie sakegeleentheid,” vertel sy.

Hul planne vir dié gewilde saamkomplek is vir eers slegs nuwe spyskaarte.

“Ons wil nie te veel te vinnig verander sodat mense nie meer die plek herken nie,” sê sy.

Hulle beplan ook om meer dikwels kunstenaars by Sterkloop te laat optree.

Die Cousins sien uit om ou en nuwe vriende hier te bederf. Die nuwe ure vir Sterkloop is belowend: Vanaf 09:00 soggens tot “wanneer die laaste mens loop saans”.

‘n Verdere bonus is dat Sterkloop op vakansiedae gaan oop wees vir diegene wat nie lus is om tuis kos te maak nie.

Ook wil die Cousins hulle begin toespits op wegneemetes. “Alle spyskaartitems kan as wegneemetes bestel word deur die restaurant te skakel en net die kos te kom oplaai. Ons lewer ongelukkig nie af nie, maar kyk tans na die moontlikheid daarvan.”

“Sterkloop is ‘n familierestaurant waar oud en jonk lekker kan saamkuier, maar rugbygeesdriftiges behoort geensins uitgesluit te voel nie. “Ons beplan om selfs beter en groter te gaan met ons rugby-uitsendings,” vertel Lioney.

“Gewoonlik word die wedstryde op Saterdae gespeel en daarom het ons ‘n spesiale braai elke Saterdag.”

Vir dié doel het hulle ‘n groot winskoop: Koop ‘n 200g kruisskyf (rump), 150g wors en ‘n skaaptjop saam met pap en sous vir R69,90. “Daar is dan ook spesiale aanbiedinge op die drinkgoed. Ons braai van 12:00 tot laat en die Saterdagbraai gaan tradisie word soos die beesstertpotjie op Sondae.”

Sterkloop spog nou ook met ‘n kragopwekker om beurtkrag teen te werk.

“Ons gaan poog om Sterkloop almal se gunsteling kuierplek te maak. As jy nog nie hier was nie, probeer gerus en as jy al daar was en teleurgesteld was, probeer weer. Dinge verander elke dag. Alles is ‘n leerproses en as daar klagtes is bring dit onder ons aandag sodat ons Sterkloop net beter en beter kan maak.” Die Cousins kan gekontak word by 079 114 4556.

Related Articles

Back to top button