Limpopo man steel helikopter ter waarde van R15-Miljoen

‘n BEKENDE prokureur van Tzaneen, Conrad Kruger is verlede week gearresteer en is tans uit op borgtog van R25 000.

TZANEEN – ‘n BEKENDE prokureur van Tzaneen, Conrad Kruger is verlede week gearresteer en is tans uit op borgtog van R25 000.

Die Valke het hom in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n helikopter, wat hy aan iemand anders verkoop het, gesteel het.

Brig. Hanwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke sê “Kruger het die Eurocopter, ter waarde van R15 miljoen, aan ‘n man verkoop wat die helikopter na Grand Central-lughawe in Gauteng geneem het vir herstelwerk.”

“Kruger het egter sonder die nuwe eienaar se medewete na die werkswinkel gegaan en die helikopter teruggeëis.

Hy het dit daarna na Antarktika verskeep waar dit vir geologiese ekspedisies gebruik is,” het Mulaudzi gesê. “Hy het boonop glo ook ‘n winsgewende ooreenkoms met ‘n Skandinawiese regering bereik.”

Intussen het die klaer ontdek dat sy nuwe helikopter weg is. Hy het Kruger daaroor gekonfronteer en hy het toe onderneem om dit terug te bring. “Hy het egter versuim om aan dié ooreenkoms te voldoen.”

Die Valke is in kennis gestel en Kruger is in hegtenis geneem.

Hy het Donderdag in die hof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R25 000. “Hy moet op 5 Mei weer in die hof verskyn. Hy moes ook sy paspoort indien en mag nie oorsee reis sonder die bevestiging van die ondersoekbeampte of senior staatsaanklaer nie,” het Mulaudzi gesê.

Exit mobile version