Local NewsNews

Bresler-sirkel nou voltooi

Wanneer die meeste wekkers Donderdagoggend lui sal Polokwane en sy mense armer wees. Die Breslers het reeds gegroet, die laaste van die lastighede klaar verkoop, weggegee of ingepak.

POLOKWANE – Wanneer die meeste wekkers Donderdagoggend lui sal Polokwane en sy mense armer wees.

Nie net die sakegemeenskap nie, maar ook gewone mense.

Want sien, wanneer gesoute en geliefde eiendomsagent Isobel Bresler dié kontrei vir die Kaap terugruil die week, los sy niks agter nie.

Ingepak vir die vroegoggendreis is Pa en Ma Wynand en Loraine van Tonder, vyf honde en vyf katte. Haar geselsgenoot vir die 1 600km-rit, is haar en manlief Steven se most precious cargo, hul seun Francois (4).

Die Breslers het reeds gegroet, die laaste van die lastighede klaar verkoop, weggegee of ingepak.

Ons drink koffie oor die vooruitskouing van ‘n spiksplinternuwe lewe.

“Polokwane was goed vir ons. Baie goed,” vertel sy.

Sedert 2002. Betrokke jare. Van die Kansa Relay for Life tot Kindersorg tot Tafelronde.

Isobel vertel van haar beginjare hier in die eiendomsbedryf.

Daardie eerste kommissie.

‘n Skaam, maar broodnodige R5 000 op sy tyd. ‘n Stad wat saam met die ontploffing in die huismark rondom 2002 uit sy nate begin bars het. Huispryse aangevuur deur ‘n kopersmark.

Sy praat met deernis en dankbaarheid van groot name in die bedryf, en medeagente, “te veel om te noem”.

Elf jaar in die tuig: van haar grootwordjare by Ansie Marais Eiendomme, haar skoeijare by Seeff saam met Manie Oosthuizen, en meer onlangs by RE/MAX Northland saam met Wilsie Oosthuizen.

Tans, meen sy, is die impak van die moratorium op ontwikkeling in die stad voelbaar in die huismark. Daar is ‘n merkbare tekort aan voorraad; die meeste eiendomme is old familiar favourites wat net nuwe eienaars kry.

“Maar ook dit sal verbygaan. Dis waar, weet jy. If you do what you love, you’ll never work a day in your life. Dit is met my absoluut die geval.”

Juis waarom die egpaar dalk van provinsie verander, maar nie van professie nie, daar waar hulle van die einde van die week af in die omgewing van Bloubergstrand en Tafelsig gaan nesskop.

“Ons kan nie wag vir hierdie nuwe geleentheid nie.”

Die gesprek gaan draai noodwendig by hul vierjarige woelwater, Francois.

Diegene na aan hulle ken die storie van die op-en-wakker jongman en sy dapper ouers goed.

Ons skarrel vir ‘n sneesdoekie. Maar vir die oomblik is die servet diensbaar.

“Ons het ons kind in Polokwane kom ‘haal’ en nou gaan ons terug. Die sirkel is voltooi.”

Die mense hier is ‘n ‘hulpbrongemeenskap’ wat sy sigbaar moeilik agterlaat. “As jy vyftig mense in Polokwane ken, ken jy almal. Ek is so dankbaar teenoor almal wat my hier geken het, vir my plek gemaak het, my geleer het.”

Sy verwys na die BNI (netwerk van plaaslike sakemense) wat vir haar goed was, deure oopgemaak het.

Na ons koffie-afspraak gesels ek met Seeff se Manie Oosthuizen, wie sy beskryf as haar grootste mentor.

“Hulpvaardig. Lojaal. Bereidwillig om te help, te leer. Professioneel. Stap die ekstra meter. Selfs vyf. Seasoned. Reg vir groter dinge, en plekke,” sê hy.

Sy was reg. Dié sirkel is voltooi.

Related Articles

Back to top button