Local NewsNews

Wie en wat is die Paashaas?

Review gesels met 'n paar kinders van Louis Trichardt om te hoor wat die Paashaas is en wat hy doen.

LOUIS TRICHARDT – Christene regoor die wêreld vier van Vrydag tot Sondag die kruisiging en opstanding van Jesus, Paasfees.

Vir die res van die wêreld se bevolking word Paasfees geassosieer met die Paashaas, Paaseiers en vakansiedae.

Review gesels met ‘n paar kinders van Louis Trichardt om te hoor wat die Paashaas is en wat hy doen.

MC van den Heever.
MC van den Heever.

MC van den Heever (7) is nie seker wie die Paashaas is nie.

“Ek weet nie wie is ons Paashaas nie, maar ek weet daardie haas bring eiers en steek dit dan in die tuin weg. Ons moet orals loop en soek waar hy die eiers weggesteek het,” sê MC.

Werner van Ree.
Werner van Ree.

Werner van Ree (8) is egter heeltemal bewus van die ware stand van sake, want “ek is nie meer ‘n baba nie”.

“Ek is mos nie dom nie, my ma is die Paashaas. Sy staan vroeg in die oggend op en steek die Paaseiers weg. Ek hou die meeste van die Paaseiers wat sy in die swembad sit, want dit proe soos my brood as ek dit in my koffie druk.”.

Matthew Emmenis.
Matthew Emmenis.

Matthew Emmenis (9) glo nie in die Paashaas nie en sien die kommersiële sy van Paasfees raak.

“Iemand met ‘n groot trok bring die Paaseiers. Dit word afgelaai by die skool en juffrou kry dan die voorreg om die Paaseiers vir almal uit te deel,” verduidelik hy.

Werner (Mannetjie) Jonker.
Werner (Mannetjie) Jonker.

Werner (Mannetjie) Jonker (8), sê hy gee nie om wie die Paashaas is of waar die Paaseiers vandaan kom nie, hy geniet Paasfees die meeste van al die vakansiedae.

“Ek staan op en dan het die Paashaas klaar al die Paaseiers weggesteek. Ek gaan kyk altyd eerste in die bome want daar is altyd baie Paaseiers. Soms is daar ook Paaseiers onder my bed.

“Partymaal kan ek nie eens loop nie want ek eet so baie Paaseiers dat my maag pyn,” sê Werner.

Kayla Venter.
Kayla Venter.

Kayla Venter (7) stem met Werner saam.

“My ma is die Paashaas en ek weet gewoonlik waar sy die Paaseiers wegsteek, want ek loer haar af deur my kamervenster. Ek kry altyd baie Paaseiers, maar ek bêre die Paaseiers want ek kan nie so baie sjokelade op een dag eet nie,” sê sy.

Yoriska van Jaarsveld.
Yoriska van Jaarsveld.

Yoriska van Jaarsveld (6) sê haar ouma is die Paashaas en daar is regverdigheid in hulle familie se eierjagtogte.

“My ouma is die Paashaas, sy steek vir ons hordes Paaseiers weg. Ons gaan soek dan die Paaseiers en vat al die eiers na my pappa toe. My pappa vat dan die eiers en verdeel dit mooi tussen al die kinders,” verduidelik Yoriska.

Related Articles

Back to top button