Hoop in hul uitreik

Vir baie mense is 'n see-vakansie so nou en dan iets wat hulle as van-selfsprekend aanvaar, tog is daar kinders in die stad wat nog nooit die see gesien het nie.

POLOKWANE – Vir baie mense is ‘n see-vakansie so nou en dan iets wat hulle as van-selfsprekend aanvaar, tog is daar kinders in die stad wat nog nooit die see gesien het nie.

Hoop vir Kinders is ‘n organisasie sonder winsbejag wat na kinders omsien wat deur die hof van hul ouerhuise verwyder is.

Maryna Kruger, Hoop vir Kinders se projekbestuurder, het aan Review verduidelik hoe die organisasie funksioneer.

“Ons het tans 14 kinders in ons sorg waarvan die jongste twee drie jaar oud is en die oudste 17. Die kinders word in groepe opgedeel en woon in vier huise. Hulle is ook leerders van verskillende skole in die stad, want ons probeer om hulle lewens so min as moontlik te ontwrig,” het sy gesê.

Verlede Donderdag het 12 van hierdie kinders op ‘n uitreik-aksie na Louwater in die Langkloof van die Ooskaap vertrek. Die twee jongstes kon nie saamgaan nie, omdat hulle op drie jaar nog te jonk is vir so ‘n ekskursie.

Die kinders was baie opgewonde oor hierdie uitreik-aksie, omdat dit die eerste keer sou wees wat hulle die see sou sien.

“Die kinders was so opgewonde dat hulle wou hê ons moet deur die nag ry om vinniger daar te kom,” het Maryna vertel.

Sy het verduidelik dat daar ‘n skool op Louwater is waar sowat 1 000 leerders onderrig word. Volgens Maryna wys statistieke dat sowat 80% van die meisies in hierdie skool seksueel misbruik is.

“Ons het die meisiesbadkamers geverf en mooi gemaak om die meisies se mens-waardigheid te herstel. Ons het ook uitgereik na kinders wat in ‘n pleeghuis woon. Hierdie pleeghuis het ons genooi om gaan kuier.”

Maryna het verduidelik dat die Hoop vir Kinders se inwoners ‘n opvoering en dans geoefen het wat hulle in die Ooskaap sou opvoer. “Die opvoering se naam is Never Give Up,” het sy gesê.

Verskeie weldoeners van die stad het gehelp om hierdie uitreik-aksie ‘n werklikheid te maak. Na hulle besoek van drie dae aan Louwater het die kinders na Oesterbaai vertrek waar hulle vakansie sou hou.

“Rokkon Development het gesorg dat ons in ‘n vakansiehuis in Oesterbaai kan tuisgaan. Al ons kos is ook geborg. Ons beplan ‘n heerlike vakansiespyskaart vir die kinders. Ons wil hul ook na die akwarium neem.”

“Die groep se brandstofkoste is geborg deur Developlan Townplanners en Laerskool Pietersburg-Noord het die bussie waarmee die groep reis voorsien.

Exit mobile version