Local NewsNews

Andre Louw se dood laat ‘n leemte

Andre Louw (80) is Vrydag stil oorlede. Hy en sy vrou Marietjie het in die Ons Tuiste Ouetehuis gewoon.

POLOKWANE – Andre Louw (80) is Vrydag stil oorlede. Hy en sy vrou Marietjie het in die Ons Tuiste Ouetehuis gewoon.

Marietjie het hom met liefde versorg na gesondheidsterugslae en met toewyding verseker dat hy so beweeglik as moontlik gebly het, maar vyf jaar gelede is hy opgeneem in die ouetehuis se siekeboeg nadat sy gesondheid verswak het.

Hy is in 1960 met Marietjie getroud en twee kinders is uit die huwelik gebore, Marina en Adriaan.

Andre het sy loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester in 1970 by De Jager, Venter en Du Rand begin. Na vele veranderinge oor die jare, is die firma in die 1980’s oorgeneem deur KPMG en Andre het uitgetree as vennoot.

Na sy uittrede het hy vir sewe jaar in Tzaneen gepraktiseer, waarna hy in die vroeë 1990’s teruggekeer het na Polokwane waar hy waargeneem het as ontvanger van inkomste.

Sy droom om te gaan reis na sy aftrede is nooit verwesenlik nie, weens die hartaanval in 2003 wat sy gesondheid ‘n knou gegee het. Drie beroertes binne drie dae in September 2005 het gevolg, waarvan die laaste hom verlam aan sy linkerkant gelaat het.

Marietjie het na Andre se skuif na die siekeboeg na ‘n kleiner woonstel nader aan die siekeboeg getrek om haar in staat te stel om na Andre se kamer te stap.

Hul dogter, Marina vertel dat haar hele lewe gewentel het rondom besoektye en sy het elke dag so beplan dat sy elke besoektyd by hom kon wees.

“Sy het so aktief as moontlik by sy versorging betrokke gebly. Sy het elke dag vir hom ‘n “middernaghappie” in die vorm van ‘n botterbroodjie, wat sy self gebak het, of rosynebrood-toebroodjie geneem.

“My pa se brein was nog baie helder, en ek is spyt ek kon nie telling hou van die hoeveelheid boeke wat hy gelees het in die tyd wat hy in sy bed vasgekluister was nie. Dit moet digby 2 000 boeke wees, as dit nie dalk meer is nie,” vertel Marina.

Andre was baie nou betrokke by die gemeenskap en gemeeenskapsorganisasies, veral by die Gideons waar hy in die vroeë 1980’s die internasionale tesourier was.

Hy was ook baie betrokke by die N.G. Kerk Pietersburg-Oos waar hy en Marietjie lidmate was nog voordat die kerkgebou gebou is. Hy was op die boukommissie, finansiële komitee en kerkraad. Sendingwerk het hom ook baie na aan die hart gelê.

Andre was ‘n Rapportryer en betrok-ke by die destydse sakekamer. Hy was ‘n geesdriftige radio-amateur, met radiovriende regoor die wêreld.

Hy het ‘n passie vir vlieg gehad en het ‘n vlieglisensie gehad en gevlieg so dikwels soos wat hy kon.

“Hy was ‘n wonderlike oupa, het ‘n spesiale bynaam vir elkeen van sy klein-kinders gehad. Dit was vir hom ‘n wonderlike voorreg om oupagrootjie te word. Hy het elke besoek van die kleintjies gekoester en lank daarna nog daaroor gepraat.”

Andre word oorleef deur sy vrou Marietjie, kinders Adriaan Louw en Marina Labuschagne, vier kleinkinders, drie agterkleinkinders en drie broers.

Die kinders bedank Marietjie vir haar liefde en versorging asook bestuur en personeel van Ons Tuiste.

‘n Dankdiens vir Andre se lewe sal vanoggend (Dinsdag) om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Pietersburg-Oos plaasvind.

Related Articles

Back to top button