Triegie-hoof ‘n sportman

Hoërskool Louis Trichardt sal die tweede kwartaal van die skooljaar begin met ‘n nuwe skoolhoof aan die stuur van sake.

LOUIS TRICHARDT – Hoërskool Louis Trichardt sal die tweede kwartaal van die skooljaar begin met ‘n nuwe skoolhoof aan die stuur van sake.

Louis Cilliers neem oor by Theo Muller wat as skoolhoof waargeneem het vir die afgelope jaar.

Review gesels met Cilliers oor sy lewe en sy planne vir die skool.

Hy vertel hy is in Pretoria gebore en getoë.

“Na skool het ek aan die Uni-versiteit van Pretoria begin studeer en ek is steeds ‘n student daar. Ek is besig met my meestersgraad in onderwysbestuur en beleidsstudies,” vertel hy.
Cilliers sê daar is twee aspekte van sy lewe waaroor hy baie ernstig is.
“Ek is ‘n Christen en ek leef volgens my Christelike waardes. Ek is ook ‘n trotse Blou Bul-ondersteuner,” sê sy.

Hierdie skoolhoof is ook ‘n kranige sportman.

“Ek het op skool vir die destydse Noord-Transvaalse Cravenweek-rug-byspan gespeel. Ek het ook vir die Blou Bulle se o/19-span gespeel en is gekies vir die Suid-Afrikaanse o/19-universiteitespan,” vertel hy.
“Ek het ook vir die Limpopo Blou Bulle se seniorspan gespeel en het saam met my vrou, Liandra, beide die Comrades en Twee Oseane maratons voltooi.”

Liandra is tans ‘n onderwyser by Hoërskool Piet Potgieter en die paar het drie dogters, Laura-Li, Linita en Renske.
Cilliers is tans adjunk-skoolhoof van die Mokopane English Combined School, ‘n privaatskool in Mokopane wat bekend is vir hul uitstekende akademiese prestasies.

“Prestasie op enige vlak het soveel meer waarde wanneer dit met gesonde balans gepaard gaan. Nie almal het dieselfde talente nie, maar dit wat jy het, moet jy gebruik en ontwikkel,” is Cilliers se opinie.
Hy is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging wat in Louis Trichardt vir hom voorlê.

“Ek sien baie uit daarna om ‘n volwaardige Triegie te wees. Ek wil deel wees van die Triegie-familie. Ons hele gesin voel reeds welkom in die dorp en ek glo ons gaan almal heerlik saamwerk om hoë hoogtes te bereik.”
Cilliers is van voorneme om altyd, in alles wat hy doen, die skool se beste belange voor oë te hou.

“Sommige van my besluite sal nie noodwendig gewild wees nie, maar elke besluit sal tot voordeel van die leerders, onderwysers en skool wees.
“Verandering is soms ‘n goeie ding. Ek gaan egter nie aan dinge verander wat goed werk nie,” sê hy.

“Kommunikasie is baie belangrik. Daarom vra ek dat enige ouer van die skool of ander persone na my toe sal kom met voorstelle oor hoe ons saam ‘n beter skool kan bou.”

Exit mobile version