PIENKVOETJIES: Charmoné bring vreugde vir die hele Nel-gesin

Isabel Nel sê sy en haar man, Anton, het nie hulle derde swangerskap beplan nie, maar was nog nie een oomblik spyt oor die welkome koms van Charmoné nie.

POLOKWANE – Isabel Nel sê sy het ‘n swangerskapstoets gedoen nadat sy agtergekom het dat haar maag swel en dat sy gewig aangesit het.

Sy sê sy en haar man, Anton, het nie hulle derde swangerskap beplan nie, maar was nog nie een oomblik spyt oor die welkome koms van Charmoné nie.

“Met elke swangerskap het ons lewens net verbeter,” vertel sy met ‘n glimlag.

Charmoné (ses maande) het ‘n ouer broer, Zian (5), en suster, Chrizaan (3). Isabel vertel dat sy en Anton unieke name vir hul kinders gekies het omdat hulle unieke kinders is.

“Die ouer twee is vir my geweldig baie van hulp. Zian is baie gewillig om te help kosgee en Chrizaan help gereeld om doeke aan te gee,” sê Isabel.

Sy vertel dat sy ‘n maklike swangerskap beleef het en dat Charmoné op 39 weke gebore is.

Volgens Isabel was sy by geboorte die grootste van haar drie kinders en het 3,4kg geweeg.

“Sy is eintlik baie soet en slaap al amper deur die nag. Sy word net so een keer wakker. Anton help baie. Hy help ook waar hy kan met die oudste twee,” sê sy.

Sy vertel dat elke kind se persoonlikheid uniek is en baie van mekaar verskil.

“Zian is baie skaam en het nie sommer met maatjies gespeel nie. Vandat hy in die kleuterskool is, gaan dit beter. Charmoné is glad nie skaam of ma-vas nie. Al wanneer sy haar ma graag wil hê is as sy honger is.”

Isabel vertel dat al die oupas en oumas baie opgewonde was om nog ‘n kleinkind te verwelkom.

“Ek moet sê my oudste twee het haar dadelik aanvaar. Ek het nooit probleme met jaloesie gehad nie. Hulle is eintlik albei baie erg oor haar.”

Anton werk soms lang ure en sien die kinders maar min, maar Isabel vertel dat die kinders hom verafgod en hy vir hulle.

“Hulle is baie lief vir mekaar. Anton spandeer elke sekonde wat hy kan saam met hulle.”

Exit mobile version