Rotariër vereer met 2de Paul Harris- toekenning danksy dienswilligheid

Dudley Venner het in 1980 by die Rotariërs aangesluit. Tans is hy 'n lid van die Rotariërklub van Polokwane waar hy onder andere in beheer is van die kroeg.

POLOKWANE – Jare gelede is Dudley Venner deur ‘n vriend van sy pa aan die Rotariërs bekendgestel.

Jeff Goddar was sy borg en in 1980 het Dudley by die Rotariërs aangesluit.

Tans is hy ‘n lid van die Rotariërklub van Polokwane waar hy onder andere in beheer is van die kroeg.

“Ons vergader elke Maandagaand en dan drink ons ‘n ietsie voor en na die tyd. Dis dan wanneer ek in beheer is van die kroeg.”

Hy vertel van sy betrokkenheid by die Rotariërs.

“Die klub organiseer safari’s wanneer buitelanders hier kom kuier. Ons neem hulle rond om meer van Polokwane te sien en te leer. Ons neem hulle ook na die Krugerwildtuin en verwelkom hulle soos familie in ons huise. Ook bied ons een keer per maand ‘n braai aan,” vertel Dudley met ‘n trotse glimlag.

Hy sê dat hy lank gelede al sy eerste Paul Harris-toekenning ontvang het.

“Heinz Haas, wat nou by die Haenertsburg Rotariërklub betrokke is, was president van ons klub en het dit aan my oorhandig vir diense wat ek gelewer het.

Die toekenning wat ek nou onlangs gekry was vir my ‘n groot verrassing. Ek het dit glad nie verwag nie. Ek was skoon uit die veld geslaan,” vertel hy.

Dudly is getroud met Maré en het twee kinders wat tans op universiteit is.

Hy self was in Bloemfontein op universiteit waar hy bourekeningkunde studeer het. Hy vertel hoe hy in London by ‘n baie ou firma as bourekenaar gewerk het.

Later het hy teruggekeer na Suid-Afrika nadat hy per telex ‘n werksaanbod van ‘n firma in Johannesburg aanvaar het.

“Daar het ek vir vier jaar gewerk waarna ek in 1997 na Polokwane verhuis het. Sewe jaar gelede het ek my eie besigheid begin.”

“Ek geniet die Rotariërs. Ek hou ook daarvan om te lees en na voëls te kyk. Ook is ons as gesin lief daarvoor om te reis, en het vroeër jare graag gekamp, maar ons kamp nie meer deesdae nie.

“Ek is ook ‘n gholf-entoesias,” sê Dudley.

Exit mobile version