Local NewsNews

Ou skoene fnuik só

'n Sektor-agt GPF-lid, wat verkies om anoniem te bly weens veiligheidsredes, sê hulle het agtergekom dat ou skoene deur inbrekers gebruik is om huise te merk tydens 'n onlangse reeks inbrake.

POLOKWANE – Jy kan jou ou skoene agterna gooi is ‘n idioom wat mense maan om dankbaar te wees, maar deesdae moet mens maar versigtig wees wat jy met jou ou skoene doen.

Volgens die polisie en lede van die sektor-agt gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir plotte en plase, gebruik booswigte deesdae ou skoene om hulle “dagtaak” makliker te maak.

‘n Sektor-agt GPF-lid, wat verkies om anoniem te bly weens veiligheidsredes, sê hulle het agtergekom dat ou skoene deur inbrekers gebruik is om huise te merk tydens ‘n onlangse reeks inbrake.

“Ons het tydens ons operasies, soektogte na verdagtes, en patrollies agtergekom dat die spore wat ons volg soms eenvoudig wegraak. Na verskeie ondersoeke het ons agtergekom dat die inbrekers ou skoene gebruik om hulle spore te verander en ons sodoende om die bos te lei,” verduidelik hy.

Hy sê GPF-lede is nie noodwendig opgeleide spoorsnyers nie en gebruik die kennis en vaardighede tot hulle beskikking om misdaad te bestry.

“Inbrekers gebruik ou skoene om huise te merk en agtervolgers te flous.”

– GPF-lid van sektor-agt

“Die skoene word voor die huis gelos wat geteiken word deur ‘verkenners’ wat vir die inbrekersindikate werk en sagte teikens uitwys deur middel van ‘n verskeidenheid merkers, soos byvoorbeeld ou skoene.

“Die inbreker verwyder dan die skoene wanneer hy klaar is en gebruik dit om GPF-lede te flous.”

Die GPF-lid sê die manier waarop die skoene gerangskik word, kan aandui hoeveel mense in die huis is en wanneer die huis leeg sal staan gedurende die dag.

Polokwane polisiewoordvoerder, a.o. Lesiba Ramoshaba, sê die publiek moet so gou as moontlik die polisie en hul betrokke GPF in kennis stel indien hulle vreemde gedrag van mense of vreemde items voor hul huise en in hul woonbuurte opmerk.

“Sodra hierdie sake gerapporteer word, kan die polisie dadelik aandag aan die probleem skenk en die nodige ondersteuning gee waar dit nodig is,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button