Waar was almal?

WAAR was die dorp se mense? Dit is die vraag wat oral gevra word na die teleurstellende opkoms by die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV) se musiekfees wat verlede Saterdag by die Mokopane Laerskool gehou is.

MOKOPANE – WAAR was die dorp se mense?
Dit is die vraag wat oral gevra word na die teleurstellende opkoms by die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV) se musiekfees wat verlede Saterdag by die Mokopane Laerskool gehou is.
Die organiseerders het geen moeite ontsien om te sorg vir ‘n dag se pret en jolyt, maar die mense was aansienlik minder as waarna uitgesien is. Daar was springkastele, stalletjies waar gekoop en gesmul kan word na hartelus, ‘n biertuin en die optrede van die gewilde Stephan Visagie, bekend vir sy treffer Waterberge Blou.
Die musiekfees is gehou om die finansiële knyp waarin die DBV tans is, te probeer verlig.Bosveld het gaan deel in die dag se pret en was aangenaam verras met al die aktiwiteite en heerlike eetgoed, al was die opkoms nie wat verwag is nie.
Die kinders het elke oomblik van die boeresport en springkastele geniet en die wat braaf genoeg was, kon ‘n foto saam met ‘n luislang neem.
“Ek sou graag meer mense daar wou sien. Die opkoms was teleurstellend, maar ek is dankbaar vir al die mense wat wel die dag kom ondersteun het. Baie dankie aan al die borge en flukse helpers,” sê Marcelle Maritz, bestuurder van die DBV.
Op die sosiale netwerk Facebook het van die inwoners wat daar was hulle misnoeë te kenne gegee oor die gemeenskap se afwesigheid by geleenthede soos die wat juis gehou word om vermaak op die dorp te bied.

Die kinders kon heerlik op die springkastele baljaar.
Exit mobile version