PIENKVOETJIES: Twee maal die vreugde

Die tweeling is op 2 Februarie deur middel van ‘n noodkeisersnee in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gebore.

POLOKWANE – By die hek groet Desireé Jacobs en haar oudste seun, Alexander, vriendelik.

Op pad na haar huis vra Alexander grootoog of ons foto’s gaan neem. Alhoewel die onderhoud nie oor hom gaan nie, speel hy tog ‘n belangrike rol in die lewe van sy broer en suster, die tweeling Jayden en Ashlyn.
Jayden en Ashlyn lê en slaap toe ons by die huis instap, maar Desireé verseker my dit is nou tyd vir hulle om wakker te word.
Haar woorde is skaars koud of ons hoor die eerste wakkerwordgeluide.
Desireé is ‘n kleuterskool-onderwyser en gelukkig om reeds van Desember, vandat die skole gesluit het, met kraamverlof te wees.
Die tweeling is op 2 Februarie deur middel van ‘n noodkeisersnee in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gebore.
“Toe ek verlede jaar uitgevind het dat ek swanger was, was ek in ‘n toestand. Hulle pa was in die begin betrokke tot ons uitgevind het dat daar is twee babas was. Toe vat hy die pad. Ek het op my bed gaan lê en huil. Ek het nie geweet hoe ek dit gaan hanteer nie,” vertel Desireé.
“Gelukkig het almal wat ek ken my moed ingepraat.”
Sy vertel dat haar swangerskap moeilik was.
Behalwe dat die laaste trimester in die somer geval het, was sy swanger terwyl sy besig was met kleuterskoolkonserte.
Drie of vier maande voor die tweeling se geboorte het sy ook geboortepyne gekry.
“Almal het gesê ek gaan vroeër geboorte skenk omdat dit ‘n tweeling is, maar hulle is op 39 weke gebore.
“Ashlyn is eerste gebore en het 2,9kg geweeg. Jayden is ‘n minuut later gebore en het 3,14kg geweeg.”
Alexander help graag en vertel dat hy nie kan wag dat die tweeling ouer word nie.
“Ek wil hê hulle moet groot wees. Ek en Jayden gaan karretjies speel en ek sal popspeel saam met Ashlyn,” vertel Alexander.
Desireé vertel dat Alexan-der baie vir die tweeling doen.
“Hy vra my nou die dag ‘hoe gaan dit met die kindertjies’. Ek wou my doodlag. Ek kry ook hulp van my ma, Kathy en my suster, Angelique,” sê sy.

Exit mobile version