Mondhigiëne krities vir oud en jonk

Mondhigiëne is baie belangrik en kinders leer van vroeg af hoe om vir hul tande te sorg.

POLOKWANE – Mondhigiëne is baie belangrik en kinders leer van vroeg af hoe om vir hul tande te sorg.
As deel van Intellektuele Gestremdheid Bewustheidsmaand wat in Maart val, het die Assosiasie vir Persone met Gestremdhede (APD) dit goed gedink om ‘n reeks praatjies te hou.
Die eerste hiervan was oor mondhigiëne.
Verlede Donderdag het die Pietersburg Provinsiale Hospitaal se tandheelkunde-afdeling ‘n besoek by Eeufeeshuis afgelê waar hulle inwoners asook besoekers van die Trix Norman Beskermde Werkswinkel meer geleer het oor mondhigiëne.
Gloria Maleka, mond-higiënis, het die inwoners en besoekers gewys hoe om hul tande op die regte manier te borsel en vir hul monde te sorg.
“Meeste van die Eeufeeshuis-inwoners is gereelde besoekers by die tandafdeling by die hospitaal en dus ken Gloria hulle op hul naam,” vertel Johnny Graham, publieke opvoeding en bewusmakingsoffisier van die APD Limpopo.
Die Pietersburg Provinsiale Hospitaal se tandafdeling het ook tandeborsels en tandepasta aan al die inwoners, dagbesoekers en personeel geskenk.
“Ons wil vir Gloria dankie sê dat sy die tyd kon maak om Eeufeeshuis te besoek. Dankie sê aan die Pietersburg Provinsiale Hospitaal vir die skenking van die tandeborsels en tandepasta en dan ook aan al die personeel vir hul vriendelikheid en toewyding,” het Johnny gesê.

Exit mobile version