Local NewsNews

Mighty Men-konferensie bereik 4 000 mans

Die afgelope naweek het 4 000 mans by die vyfde jaarlikse Mighty Men-bosveldkonferensie op die plaas Snymansdrift net buite die stad saamgetrek.

POLOKWANE – Die afgelope naweek het 4 000 mans by die vyfde jaarlikse Mighty Men-bosveldkonferensie op die plaas Snymansdrift net buite die stad saamgetrek.

Vrydag en Saterdag het die mans geluister na die boodskappe wat Matt Ludick en Piet Jacobs gebring het.
Sondagoggend het hulle hul families saamgebring om ‘n erediens, gelei deur die bekende evangelis, Angus Buchan, by te woon.
Voorsitter van die Mighty Men-bosveldkonferensie en eienaar van Snymansdrift, Francois Brits, het gesê dat dit vir hom ‘n voorreg was om vanjaar weer die mans op sy plaas welkom te heet.
“Dit was vir my ‘n seëning om die ‘pa’ van Mighty Men, Angus Buchan, weer hier by ons te hê Sondag. Hy is seker een van die mees nederige mense wat ek nog ooit ontmoet het,” het Brits gesê.
“Toe ons die bosveldkonferensie begin het, het mense na ons as ‘n Gideonsbende verwys. Vanjaar het Buchan juis oor die rol van Gideon in God se plan gepreek.”
“Vandat ons begin het met die voorbereidings tot en met die laaste dag se saamtrek het ‘n gevoel van vrede en rustigheid wat die Here bewerkstellig het oor ons as organiseerders gespoel, om nie eens om te praat van die mense wat vanjaar se konferensie bygewoon het nie. Die hele konferensie vanjaar was uit die staanspoor vir my ‘n wonderwerk op wonderwerk en dit is wonderlik om God se vrede te kon ervaar. Baklei was nie in ons organiseerders se woordeskat nie, net God se vrede en liefde,” het hy bygevoeg.
Brits het gesê die plan was van die begin af om die Mighty Men-bosveldkonferensie vir sewe jaar lank elke jaar aan te bied. Die konferensie sal dus vir nog twee jaar op sy plaas aangebied word.
“Indien dit God se plan is om daarna weer die konferensie hier aan te bied, sal ek gehoorsaam wees en Sy leiding volg.”

Bekende evangelis Angus Buchan praat Sondag oor die rol van Gideon in God se plan tydens die Mighty Men-bosveldkonferensie op die plaas Snymansdrift buite Polokwane.
Bekende evangelis Angus Buchan praat Sondag oor die rol van Gideon in God se plan tydens die Mighty Men-bosveldkonferensie op die plaas Snymansdrift buite Polokwane.

(MEER FOTO’S)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button