Voedsame en sakpas kosblik-idees

Beplan vooraf wat jy in jou kosblik wil sit vir die week, en pas dit aan vir elke ouderdomsgroep.

POLOKWANE – Om ‘n kosblik te pak is maklik en vinnig. Om ‘n gesonde, lekker en aantreklike kosblik te pak is dalk nie so maklik en vinnig nie en neem so ‘n bietjie meer beplanning, maar nie noodwendig meer tyd in beslag nie.

Die versoeking om vinnig die snoepie of die kafee om die hoek te besoek sal baie kleiner wees as die kos nie elke dag dieselfde is nie, en af en toe ook ‘n paar blokkies donkersjokolade insluit vir die lekker.

As mens wil begin by die begin, kyk dat jou verpakking doelgerig is. ‘n Lekker stewige plastiekhouer met ‘n deksel wat stewig pas, foelie-uitgevoerde houers of koelsakke om kos koud of warm te hou, selfsluit-toebroodjiesakkies en flesse vir vloeistowwe verhoed ‘n papgedrukte vrug of toebroodjie in jou handsak of jou kind se skooltas.

In ons warm klimaat moet mens versigtig wees vir kossoorte wat voedselvergiftiging kan veroorsaak as dit te lank aan hitte blootgestel word of nie koud genoeg gehou word nie: ‘n gevriesde jelsakkie of ysbaksteen in ‘n koelsakkie sal kos koud hou.

Beplan vooraf wat jy in jou kosblik wil sit vir die week, en pas dit aan vir elke ouderdomsgroep. Kleuters en kinders sal kosse wat gerig is op hulle ouderdomsgroep waardeer.

‘n Kleurvolle verskeidenheid lyk altyd aantrekliker en sal amper waarborg dat jy ook ‘n verskeidenheid vitamiene en minerale inkry.

Koop vooraf en bêre benodighede in die yskas, weg van die alledaagse gebruiksgoed.

‘n Gebalanseerde inhoud sal help om energievlakke te beheer: sorg vir maer proteïene, vars vrugte, groente soos krakerige vars wortels, slaai of uitgedopte ertjies, ‘n volgraanbroodjie en suiwelprodukte soos kaas of jogurt.

Neute kan sorg vir gesonde olies en vette, asook avokado in jou slaai of op ‘n toebroodjie.

Maer proteïene en suiwel kan gekombineer word as ‘n opsie, aangesien beide ‘n goeie bron van kraggewende proteïene is.

‘n Geregistreerde dieetkundige van Polokwane, Anke van Waveren, verduidelik hoe enige koskombinasie gebruik kan word om ‘n gebalanseerde kosblik-ete saam te stel.

Neem dieetvoorkeure of behoeftes in ag en moenie te veel soetgoed in ‘n skoolkind se kosblik sit nie.

Droë vrugte of neute is baie gesonder as lekkergoed wat die kind dalk met ongewone hoë energievlakke laat, tot ergernis van die onderwysers.

‘n Vrug met jogurt, neute of ‘n laevetkaaswiggie sal voldoende wees as versnapering. Hou die kaloriëe dop, ook by kinders.

 

Kosblik-idees:

• ‘n Pitabroodjie met laevetjogurt, hoender en slaai, tamatie en ‘n appel.
• ‘n Volgraanbroodjie met koue vleis of tuna verkieslik vars gaar vleis soos bees of skaapboud of hoenderfilette. ‘n Vrugtekebab met pynappel en aarbeie en ‘n halwe koppie ongesoute grondbone of neute.
• ‘n Piesang, ‘n volgraanbroodjie met grondboontjiebotter en jogurt.
• Gemengde groenslaai met hoenderstukkies, gekapte tamaties, komkommer, hardgekookde eier, slaaisous (apart), twee koppies springmielies en een geskilde lemoen of naartjie.
• Gaar koeskoesslaai met fetakaas, rooi uie, tamaties, pietersielie, swartpeper en sout, olywe en kekerertjies, twee eetlepels hummus en een koppie druiwe.
• Tamatie en kaasblokkies op ‘n stokkie.
• Biltong en droëwors.
• Vrugteskommels met mango en piesang gemeng met jogurt of ander vrugte.
• Gekapte en geskilde vrugte, gereed vir eet – hou skille aan waar moontlik, die growwigheid is goed vir jou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version