PIENKVOETJIES: Morne laat sy pa se hart klop

Elke pa droom van 'n seun wat in sy voetspore kan volg en die familienaam sal voortdra -Terrence Pretorius

POLOKWANE – Elke pa droom van ‘n seun wat in sy voetspore kan volg en die familienaam sal voortdra.

Alhoewel pa’s in hul noppies is met hulle dogters, laat seuns tog hul harte anders klop. Terrence Pretorius sê sy seun, Morne, laat sy hart anders klop.

Terrence en sy vrou, Tania, het nege maande gelede die trotse ouers geword van hul eerste seuntjie, Morne.

Morne is Mia (3) se kleinboet en het 3,32kg geweeg by geboorte. Hy was 50cm lank.

“Sy naam is Morne sonder enige aksente op die E,” vertel Tania.

“Ons het nogal gestry oor sy naam. Een van ons het in ‘n stadium die naam Ryan voorgestel, maar ons wou tog ‘n boerenaam hê. Ons het toe maar besluit op Morne.”

Terwyl ons gesels, kruip Morne rond en speel met Mia. Mia is duidelik ‘n groot aanhanger van haar broer en gee hom aanmekaar soene en drukkies.

“Hy is beslis ‘n moeiliker baba as wat sy ousus was. Ek het altyd gehoor seuntjies is makliker as dogtertjies al bereik hulle sekere mylpale later. Morne is anders, hy leer duidelik by sy ousus wat om te doen,” vertel Tania wat tans in diens van die Limpopo tesourie is, maar nou op soek is na ‘n onderwyspos.

Terrence is die eienaar van sy eie besigheid en vertel dat hy gelukkig is om ‘n seun en ‘n dogter te hê.

“Ek sien vir Morne ‘n akademiese toekoms. Elke keer as ons by ‘n krieket- of tennisspeler verbyry, dan sê ons ons hoop nie hy speel krieket of tennis nie. Maar solank hy gelukkig is, is ons ook gelukkig,” sê hy.

Morne het reeds vier tande en is besig om nog tande te sny. “Hy hou ons redelik uit die slaap en kwyl baie,” vertel Tania.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version