Local NewsNews

PIENKVOETJIES: Kersfees bring nuwe lewe

Verlede jaar het Kersdag meer opwinding as gewoonlik vir Winston Southon en Brümilda Goliath ingehou.

POLOKWANE – Verlede jaar het Kersdag meer opwinding as gewoonlik vir Winston Southon en Brümilda Goliath ingehou.

“Brümilda se kraampyne het begin en ons is met haar hospitaal toe,” vertel Winston waar hy trots met hul babadogter, Winolia Southon, op en af deur die huis loop.

“As ek gaan sit skree sy, so nou loop ek maar so op en af,” verduidelik hy.

Winolia is uiteindelik op 26 Desember gebore en het 3,08kg geweeg. Sy was 48cm lank.

Brümilda onthou haar dogter is presies om 11:20 gebore.

Winolia het ‘n ouer sussie, Brooklyn, wat volgens haar pa net heeltyd wil popspeel.

Brümilda vertel dat Brooklyn die heeltyd vir Winolia wil vashou.

“Winolia is rustig, maar sy word baie vroeër as ons wakker,” lag Winston.

Haar naam is ‘n self-opgemaakte naam. Winston wou iets met die letter W hê en sodoende is Winolia se naam gebore.

“Ek wil net hê dat sy gelukkig moet wees. En dat sy eendag met ‘n goeie man sal trou wat vir haar sal sorg,” vertel hy terwyl hy liefdevol na sy dogter kyk.

Brümilda vertel dat haar eerste swangerskap baie makliker was as hierdie een.

“Ek was siek en het vreeslik gesukkel met sooibrand. Jy sien mos haar bos hare,” sê sy en verwys na die geloof dat ‘n baba met baie hare sooibrand vir mamma veroorsaak.

“Sy is ‘n effense moeilike baba, maar ons staan nie vreeslik baie in die nag vir haar op nie.”

Die paar vertel dat Winolia nie beplan was nie, maar dat die skok toe hulle uitvind dat Brümilda swager was, ‘n goeie skok was.

“Ek droom daarvan dat sy ‘n selfstandige mens sal wees wat na haarself sal kan kyk,” sê Brümilda met trots in haar sagte stem.

“Miskien oor so vyf of ses jaar kan ons weer ‘n bondeltjie liefde hê, hopelik ‘n seuntjie.”

Related Articles

 
Back to top button