Local NewsNews

Eiendom kry hupstoot

DIE nuwe mynboulisensie wat onlangs naby Mokopane toegeken is, het na verwagting reeds die dorp se ekonomie en eiendomsmark 'n stewige hupstoot gegee.

MOKOPANE – DIE nuwe mynboulisensie wat onlangs naby Mokopane toegeken is, het na verwagting reeds die dorp se ekonomie en eiendomsmark ‘n stewige hupstoot gegee en huurders en kopers kan hul regmaak vir verhoogde pryse vorentoe.

Dit is danksy die sowat R17-miljard wat Ivanplats wat die mynregte hou, in nuwe werksaamhede belê het, sê Esther van der Merwe, prinsipaal en eienaar van RealNet Mokopane.

Die lisensie is aan die begin van November verlede jaar toegeken om die platina platrif naby Mokopane te ontgin en geld 30 jaar met die opsie om dit met ‘n verdere 30 jaar te verleng.

Dit volg kort op die hakke van hoër produksievlakke by Anglo se yslike Mogalakwena oopgroefmyn sowat 30 km noord van die dorp.

“Die mynboubedrywighede het klaar ‘n goeie invloed op die mark.

“Beskikbare huureiendomme en eiendomme wat te koop is, is baie skaars.

“Ons verwag dat die vraag verder gaan styg en dat dit in die langer termyn volgehou gaan word.”

Sy sê die ernstige tekorte aan huureiendomme gaan huurgeld vinniger laat styg.

“Na die resessie in 2009 en die meer onlangse stakings in die mynbedryf kon talle voornemende verkopers geen koopaanbiedinge lok nie en moes noodgedwonge hul eiendom in die huurmark vrystel. Die meeste van dié voorraad is egter nou uitverkoop.”

Op die oomblik, sê Van der Merwe, wissel huurgeld tussen sowat R4 500 per maand vir tweeslaapkamer-woonstelle tot sowat R6 600 vir meenthuise met drie slaapkamers en R15 000 vir luukse wonings in gewilde voorstede soos Chroompark.

“Hoewel ontwikkelaars graag heersende marktoestande wil benut om nuwe eenhede na die mark te bring, word hulle gekortwiek deur die onstabiliteit in die Mogalakwena Munisipaliteit en die gevolglike vertragings in die skep van nuwe infrastruktuur.

“Beloftes is deur Pravin Gordhan, minister van korporatiewe regering gemaak dat die situasie by die munisipaliteit binnekort iets van die verlede sal wees.”

Beleggers wat beoog om die huurmark te betree het nou ‘n gulde geleentheid aangesien huurgeld ‘n sterk opwaartse kurwe toon en dat daar vir die afsienbare toekoms geen tekort aan huurders gaan wees nie.

Maar beleggers behoort nie te lank te talm nie aangesien talle jong mense begin besef dis goed- koper om te koop as om te huur, indien hulle vir ‘n huislening kwalifiseer.”

Related Articles

 
Back to top button