Local NewsNews

Jou vandalisme-grap kan iemand se lewe beteken

Noodreddingswerkers wat in die stad werk sê om 'n straatnaambord te beskadig is 'n grap wat dalk iemand se lewe kan kos.

POLOKWANE – Noodreddingswerkers wat in die stad werk sê om ‘n straatnaambord te beskadig is ‘n grap wat dalk iemand se lewe kan kos.

Jan-Herman Goosen, ‘n ambulansbestuurder van Polokwane, sê straatnaamborde wat onherkenbaar beskadig is, maak sy werk baie moeilik en veroorsaak dat waardevolle tyd verspil word voordat hy en sy kollegas by noodgevalle kan uitkom.

“Ons moet dikwels jaag om iemand te gaan help in ‘n deel van die stad wat ons nie noodwendig goed ken nie. Dan is ons afhanklik van straatnaamborde om die regte adres te kry. Wanneer die straatnaam toegeverf of die naambord afgebreek is, mors ons tyd om na die regte adres te soek,” vertel hy.

Goosen sê soms is die straatnaamborde so erg gebuig dat hy die ambulans moet stop en uitklim om die straat se naam te kan lees.

“Daardie paar sekondes wat dit my neem om die naam van die straat te probeer ontsyfer kan die verskil tussen lewe en dood beteken,” sê hy.

“Selfs verkeerde spelling op straatnaamborde kan kosbare tyd mors.”

Isaack Maloba, ‘n gewapende reaksiebeampte van ‘n bekende sekuriteitsmaatskappy in die stad, sê dat beskadigde straatnaamborde dikwels in die verlede die rede was waarom hy en sy kollegas nie betyds by ‘n noodgeval kon opgedaag nie.

“Die probleem is nie net vandalisme nie. Soms is die borde so oud dat die name byna onleesbaar verbleik het.

“Dit mors baie tyd in ‘n noodgeval wanneer mens eers die naamborde moet probeer ontsyfer of in die verkeerde straat afdraai,” vertel hy.

Polokwane polisiewoordvoerder a.o. Lesiba Ramoshaba sê vandalisme kan slegs aangespreek word indien die publiek voorvalle van vandalisme aanmeld.

Hy sê dit is ook belangrik om probleme met straatnaamborde onder die Polokwane Munisipaliteit se aandag te bring.

“Vandalisme is ‘n misdaad en oortreders sal hoë boetes moet betaal indien hulle skuldig bevind word. Oortreders sal ook kriminele rekords kry,” verduidelik hy.

Polokwane Munisipaliteit se woordvoerder, Malesela Maubane, sê inwoners kan voorvalle van vandalisme van munisipale eiendom by die munisipale kantore rapporteer of die munisipaliteit by (015) 290 2000 skakel.

“Mense wat hul skuldig maak aan vandalisme van munisipale eiendom sal met R1 000 beboet word indien hulle gevang word,” sê hy.

Related Articles

 
Back to top button