Local NewsNews

Bel Jan in jou slangnood

Jan van Rooyen staan onder inwoners van Louis Trichardt bekend as Jan Slang omdat hy 'n kenner is op die gebied van herpetologie.

LOUIS TRICHARDT – Toe Franswa Coetzer onlangs ‘n swartmamba op sy erf raakgeloop het, het hy dadelik geweet wie om te bel.

Jan van Rooyen staan onder inwoners van Louis Trichardt bekend as Jan Slang omdat hy ‘n kenner is op die gebied van herpetologie.

Na 28 jaar se navorsing oor slange, hul habitat en gewoontes, het Jan nie ‘n bang haar op sy kop wanneer dit kom by hierdie reptielspesie nie.

“My liefde vir slange het van jongs af begin. Hoe meer ek met slange te doen gekry het, hoe meer wou ek oor hierdie interessante diere leer,” vertel Jan.

Hy vertel dat hy selfs die bekende skrywer en navorser op die gebied, Johan Malan, ontmoet het en baie by hom geleer het.

“Hy was ‘n inspirasie vir my. Hy het al vele boeke oor slange en ander reptiele geskryf en word beskou as ‘n kenner op die gebied.”

Jan sê Franswa het die regte ding gedoen om hom te bel om die swartmamba van sy erf te verwyder, want hierdie slange is van die mees giftige slange in die wêreld.

“Die swartmamba se gif is neurotoksies wat beteken dit het ‘n invloed op die mens se senuweestelsel,” verduidelik hy.

Die mamba se gif lei uiteindelik tot totale verlamming en die hart en longe hou dan ook op werk.

Jan sê die mamba se gif werk baie vinnig en daarom moet slagoffers baie vinnig behandeling ontvang.

Hy waarsku inwoners om slange met respek te hanteer.

“Wanneer jy op enige slang afkom, staan doodstil en beweeg dan weg van die slang af. Slange sal net byt indien hulle bedreig voel. Los die slang uit en bel ‘n kenner om jou te kom help,” is sy raad.

“Hou die slang dop, moenie enige skielike bewegings maak nie en beweeg weg van die slang af.”

Jan sê inwoners is welkom om hom by 079 852 5213 te skakel indien hul hulp nodig het om slange te verwyder.

“Ek vang die slang en hou dit by my tot ek ‘n plek kry waar ek die slang kan laat gaan waar hy niemand gaan pla nie. Daar laat ek hom los in sy natuurlike habitat,” sê hy.

Related Articles

 
Back to top button