Vreugde nadat munisipaliteit begin om Westenburg-slaggate op te vul

Die munisipaliteit is besig om slaggate in Westenburg se strate reg te maak. "Danksy Review word die gate uit eindelik reggemaak"

POLOKWANE – Die munisipaliteit is besig om slaggate in Westenburg se strate reg te maak.

Dit na Review se berig dat daar in amper elke straat in Westenburg slaggate is.

Die strate wat die ergste geraak word, is John Smith-, Ben Harris-, Buys-, Whitehead-, Nagel-, en Southonstraat.

“Danksy Review word die gate uit eindelik reggemaak. Ons sukkel al hoe lank om die munisipaliteit te kry om die gate reg te maak. Ek hoop net dié keer word dit op die korrekte manier reggemaak,” sê een van die inwoners wat geraak word deur die slaggate.

Die inwoners beweer dit is as gevolg van swak vakmanskap dat die slaggate so ‘n groot probleem in die area is.

“In die verlede het die kontrakteur ,wat die munisipaliteit aangestel het om die slaggate reg te maak, die gate vol sand gegooi en dan teer daaroor gegiet. Die gevolg is dat die gate oor ‘n paar dae weer oopbreek. Ek kan daarvan getuig, want ek het gesien hoe die mans sand in die gate gooi en teer oorgiet,” verduidelik ‘n inwoner.

Motoriste is verheug dat die slaggate reggemaak word.

“Nou gaan ons weer geld spaar, want die slaggate het ons voertuie baie beskadig en ‘n klomp geld uit die sak gekos. In Ben Harris-, Southon- en Buysstraat is die slaggate so erg dat motoriste aan die verkeerde kant van die pad moet ry om die gate te vermy.

“In John Smithstraat het ‘n bestuurder nie ‘n keuse as om deur die gate te ry nie, want daar is oral gate in die straat.

“Die munisipaliteit moet veral die slaggate in Whiteheadstraat regmaak. Daar is twee groot slaggate net na die spoedhobbel in die pad. Ek ken baie mense wat groot skade gely het, want ‘n mens kan nie die slaggate sien as jy aangery kom nie. Eers wanneer jy binne-in die gat is, weet jy hy is daar,” sê ‘n motoris.

Tidimalo Chuene, ‘n munisipale woordvoerder het bevestig dat die munisipaliteit reeds verlede week begin het om slaggate in Westenburg reg te maak.

Die kontrakteur het opdrag gekry om al die slaggate in Westenburg tussen 12 en 23 Januarie reg te maak,” verduidelik Chuene.

 

Westenburg-inwoners is keelvol vir slaggate

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version