Speel saam ringbal en dra by tot Henda se fonds

Die ringbal-gemeenskap van Polokwane sal op 31 Januarie 'n pretdag aanbied om fondse vir die 19-jarige Henda Nel in te samel.

POLOKWANE – Die ringbal-gemeenskap van Polokwane sal op 31 Januarie ‘n pretdag aanbied om fondse vir die 19-jarige Henda Nel in te samel.

Henda het T-sel akute limfatiese leukemie, ook genoem T-cell ALL. Hierdie tipe kanker sluit die beenmurg, brein, senuweestelsel en limfstelsel in.

Sy het dringend ‘n beenmurgoorplanting nodig.

Volgens haar ma, Sandra Lubbe, is die toetse vir potensiële skenkers baie duur en word die volle koste nie deur haar mediese fonds gedek nie.

Henda is self ‘n kranige ringbalspeler en die stad se ringbalspelers het besluit om fondse vir haar in te samel.

“Verskeie ringbalspanne gaan mekaar uitdaag op die baan en daar sal ‘n dans na die tyd wees,” vertel Sandra.

‘n Biertuin en kosstalletjies sal ook beskikbaar wees en die pretdag sal plaasvind by die Polokwane ringbalbane in Dorpstraat naby die Peter Mokaba Stadion.

Louwrenzia Swart, een van die organiseerders van die dag, verduidelik dat alle geld wat ingesamel word vir Henda se beenmurgoorplanting sal gaan.

“Ons daag alle besighede in die stad uit om mekaar uit te daag in die ringbalkompetisie. Daar sal ook pret wees vir die hele gesin en beginners is welkom om die dag saam met ons te geniet,” voeg Swart by.

Swart vertel ook hoe Henda vir baie ringbalspelers ‘n inspirasie is met haar positiewe houding.

Om deel te wees van hierdie fondsinsamelingsprojek of ‘n span in te skryf vir die pret ringbaltoernooi kontak Louwrenzia by 071 957 0491 of Sandra by 082 857 1401.

Exit mobile version