Rock Hard-sangers sing vir Henda Nel

JP Duvehage, eienaar van Rock Hard Music School, het van die pretdag in Review gelees en onmiddelik aangebied dat sy kunstenaars die vermaak sal verskaf op die dag.

POLOKWANE – Verlede week het Review berig oor Henda Nel.

Henda het ‘n been-murgoorplanting nodig nadat sy gediagnoseer is met limfoblastiese T-selleukemie. Hierdie tipe kanker sluit beenmurg-, brein-, senustelsel- en limfoonkanker in.

Henda se mediese fonds dek nie al die onkostes van die beenmurgoorplanting nie en daarom het weldoeners ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir haar gereël.

JP Duvehage, eienaar van Rock Hard Music School, het van die pretdag in Review gelees en onmiddelik aangebied dat sy kunstenaars die vermaak sal verskaf op die dag.

“Sy is deel van ons gemeenskap, ons moet almal help waar ons kan,” het hy gesê.

Die pretdag vind plaas op 31 Januarie by die Polokwane-ringbalbane in Dorpstraat.

Die verrigtinge skop om 10:00 af met ‘n potjiekoskompetisie. Ook sal daar opwindende ringbalwedstyde gespeel word. Henda was uit haar vel oor die nuus van die pretdag en om te hoor van al die mense wat saamstaan om haar te help. “My toekoms is in die hande van ‘n alwetende God,” het sy gesê.

JP het gesê die Rock Hard-musikante wat vermaak op die pretdag sal verskaf is Megan Bezuidenhout, Hennie Helberg, Annecke Serfontein, Alex van der Steyn, Milan Moon, Cleoné van Niekerk, Petrich Brits, Nadine Swanepoel, Nickey taylor en Frikkie Fourie.

“Elke kunstenaar gaan tussen drie en ses liedjies sing,” het JP verduidelik.

Milan Moon, Megan Bezuidenhout, Annecke Serfontein, Nadine Swanepoel en Petrich Brits is lede van ‘n sanggroep wat bekend staan as die B-Sharps.

Hulle het almal saamgestem dat hulle mense met hul sang wou oortuig om Henda te help.

“Ons wil ook vir Henda inspireer en laat glo dat sy sal beter word. Ons wil haar hoop gee,” het Milan gesê.

“My kunstenaars wil ‘n verskil maak. Ons wil vir Henda wys ons staan by haar,” het JP bygevoeg.

Exit mobile version