Swembad in Louis Trichardt bied steeds geen lafenis nie

Met nog net twee of drie maande van die swemseisoen oor, is Louis Trichardt se munisipale swembad steeds nie gereed vir gebruik nie.

LOUIS TRICHARDT – Met nog net twee of drie maande van die swemseisoen oor, is Louis Trichardt se munisipale swembad steeds nie gereed vir gebruik nie.

Sewe maande nadat burgemeester David Mutavhatsindi verlede jaar op 20 Mei die bouwerk aan die swembad amptelik geopen het deur die eerste teel af te kap, is die hekke steeds toe vir die publiek.

Tydens hierdie geleentheid, het Mutavhatsindi gesê die swembad sal teen 30 Junie verlede jaar in gebruik geneem word.

“Op daardie dag sal ek hier wees in my swemklere en saam met inwoners kom swem om die swembad in te wy,” het hy gesê.

Die swembad se hekke het egter toe gebly en inwoners het begin mor. Verskeie inwoners het gesê hulle wou graag van hierdie fasiliteite gebruik maak.

“Dit sal vir my lekker wees as die dorpswembad weer oop is. Dit sal heerlik wees om saam met my gesin weg te kom van die huis af op ‘n Sondag en lekker te braai en swem,” het Charné Venter gesê.

Op 23 September het die munisipale woordvoerder, Louis Bobodi, aan Review gesê die boukontrakteur het gesukkel om sekere materiale vir die swembad in die hande te kry en dit het die proses vertraag.

Hy het gesê die munisipaliteit sou die swembad teen die einde van 2014 gereed hê vir die publiek.

Review het Maandag weer met Bobodi gepraat oor die swembad en hy het gesê hy sal die saak ondersoek en alle navrae beantwoord. Bobodi het gesê die swembad se bouwerk is voltooi, maar die swemlane moet nog geverf word.

“Sodra die swemlane klaar geverf is, sal ons die swembad oopmaak. Ek glo dit sal nie later as teen die einde van Februarie wees nie,” het hy gesê.

 

Makhado pool is not finished yet

Exit mobile version