Nuwe strukture vir ATKV

Die jaarlikse Polokwane-takvergadering van die Afrikaanse Taal- en Kultuurereniging (ATKV) het verlede Donderdag in Polokwane plaasgevind.

POLOKWANE – Die jaarlikse Polokwane-takvergadering van die Afrikaanse Taal- en Kultuurereniging (ATKV) het verlede Donderdag in Polokwane plaasgevind.

Streeksorganiseerder, Mark-Anthony Nelson het die vergadering gelei en die hoofpunt van bespreking was herstrukturering binne die organisasie.

“Daar is verskeie redes vir herstrukturering. Die ATKV is tans gestruktureer as ‘n maatskappy sonder winsbejag met lede wat filliaalmaatskappye besit. Ook bedryf die ATKV beide kultuuraktiwiteite en uitgebreide sake-aktiwiteite. Die ATKV se sukses as kultuurorganisasie is gebaseer op die veronderstelling dat die organisasie selffinansierend moet wees en sy sake-aktiwiteite effektief en winsgewend moet bedryf,” het Nelson gesê.

Hy het verduidelik dat die beperkinge om beide kultuur- en sake aktiwiteite binne een maatskappy te bedryf te groot raak en die herstrukturering van die ATKV-groep noodsaak.

Volgens Nelson was die omvang en kompleksiteit van die voorgestelde herstrukturering relatief klein en kon dit vinnig afgehandel word. “Gevolglik kan die voordele van herstrukturering vinnig realiseer,” het hy verduidelik.

Wat behels die herstuktureringsvoorstel?

• Die ATKV-groep se struktuur, aktiwiteite en korporatiewe bestuur word herstuktureer, maar uiteindelike beheer bly by die houermaatskappy.

• Alle grond en onroerende oordeiendom, die organisasie se kroonjuwele, bly die eiendom van die ATKV-kultuurmaatskappy of bestaande eiendomsfiliale

• Die lopende sake-aktiwiteite en ondersteunende bates, insluitent onroerende vaste bates en bedryfsbates, asook bedryfslaste word oorgeplaas na die ATKV-sakemaatskappy as volfiliaal

• Huurooreenkomste word gesluit tussen partye waarvolgens oorde se bedryf voortgesit word binne die ATKV-sakemaatskappy

• Die houermaatskappy is verantwoordelik vir groepsbelyning en effektiewe voldoening aan vereistes van die regulerende omgewing.

“Die implikasies is dat die ATKV-groepstruktuur behou word en die ATKV bedryf word soos wat dit huidiglik bestuur word. Waarskynlike realisering van wetlike-, besigheids- asook belastingrisiko’s kan ook by die implikasies ingesluit word,” het Nelson gesê.

Aan die einde van die vergadering is Dewald Gawie Gilfillan afgevaardig om die ATKV se algemene jaarvergadering by ATKV Klein Kariba op 27 en 28 Mei by te woon.

Exit mobile version