Local NewsNews

Westenburg-inwoners is keelvol vir slaggate

Westenburg-inwoners sê hulle het genoeg gehad van die slaggate in hul woonbuurt.

POLOKWANE – Westenburg-inwoners sê hulle het genoeg gehad van die slaggate in hul woonbuurt.

Review het ondersoek ingestel en gevind dat daar in amper elke straat in Westenburg slaggate is, maar die strate wat die ergste geraak is, is John Smith-, Ben Harris-, Buys-, Whitehead-, Nagel- en Southonstraat.

Die inwoners beweer dit is as gevolg van swak vakmanskap dat die slaggate so ‘n groot probleem is.

“Die kontrakteur wat die munisipaliteit aangestel het om die slaggate reg te maak gooi die gate vol sand en dan giet hulle teer daaroor. Die gevolg is dat die gate oor ‘n paar dae weer oopbreek. Die munisipaliteit moet sorg dat die gate op die korrekte manier reggemaak word,” sê een van die inwoners wat gesien het hoe die gate na bewering met sand gevul word voordat daar teer oorgegiet is.

Die motoriste kla ook dat die slaggate hul voertuie beskadig en pleit met die munisipaliteit om so gou as moontlik die slaggate reg te maak.

“Die gate is ‘n probleem in ons gemeenskap en as dit reën dan ly ons wat voertuie het die meeste skade. Ek wens net die munisipaliteit kan die paaie ordentlik regmaak, sodat die gate permanent toe bly en nie weer na ‘n rukkie oopgaan nie. ‘n Mens spandeer baie geld om jou motor reg te maak as gevolg van slaggatskade,” sê ‘n motoris.

Hy voeg by dat daar sekere gedeeltes in Ben Harris- en Southonstraat is waar motoriste aan die verkeerde kant van die pad moet ry om die gate te vermy en in John Smithstraat het ‘n bestuurder nie ‘n keuse as om deur die gate te ry nie, want daar is oral gate in die straat.

“In Whiteheadstraat is daar twee groot slaggate net na die spoedhobbel in die pad. Ek ken baie mense wat groot skade gely het, want ‘n mens kan nie die slaggate sien as jy aangery kom nie. Eers wanneer jy binne-in die gat is, weet jy hy is daar,” verduidelik die motoris.

Tidimalo Chuene, munisipale woordvoerder, sê die slaggate word veroorsaak deur swaar verkeer en waterskade tydens die reënseisoen.

Sy sê die kontrakteur wat aange-stel is om die strate in Westenburg reg te maak, is aangesê om te konsentreer op strate wat die meeste verkeer dra en die meeste skade gely het.

“As gevolg hiervan het ander strate, wat minder deur skade ge-raak is, minder aandag gekry. Die kontrakteur het ook opdrag gekry om al die slaggate in Westenburg tussen 12 en 23 Januarie reg te maak.”

Chuene sê slaggate kan op verskeie maniere herstel word. “Een van hierdie maniere is basiese herstelwerk waar die gat met gruismateriaal gevul word en vasgestamp word.

“Dit is noodsaaklik dat die gruismateriaal waarmee die gat gevul word op die regte manier behandel word om te verhoed dat die stopwerk verbrokkel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button