Boere dankbaar vir ‘n goeie reënvalseisoen

DIE goeie reën wat verlede maand in die omgewing uitgesak het, laat die boere met groot dankbaarheid en breë glimlagte.

MOKOPANE – DIE goeie reën wat verlede maand in die omgewing uitgesak het, laat die boere met groot dankbaarheid en breë glimlagte.

Ockert Scherman, voorsitter van die Potgietersrus Distrikslandbou-unie, sê lieflike buie reën het voor Kerstyd in die Sterkrivier-omgewing uitgesak en weerprofete voorspel nog reën.

“2015 het voorwaar op ‘n goeie noot vir die boere begin.

“Daar word tans fluks sonneblomme en suikerbone geplant en goeie oeste word verwag.”

Nog ‘n boer van die omgewing, Chris Human, vertel 300mm reën het in die Sterkriviergebied geval, hoewel daar dele is wat nog baie water nodig het.

Benewens die goeie oeste wat verwag word, is hy ook dankbaar dat plaasaanvalle in die omgewing nie so volop is soos in ander dele van die land nie.

Meer as 400mm reën is in die Crecy-omgewing gemeet, sê Floris Booysen. Hy het Woensdag-ogggend al klaar weer 50mm gemeet en is opgewonde oor die droogte wat gebreek is.

“Die veld is groen en die Nylrivier loop lekker. Ek is dankbaar en gaan die jaar positief binne.”

Pieter Boshoff wat in die Nyl-omgewing boer vertel die gemoedere van die boere is goed na die goeie buie wat uitgesak het.

“Almal is sommer opgewonde en vriendelik. Daar word fluks geplant aan sonneblomme en graansorghum.”

Hy het 225mm reën in Desember verlede jaar gemeet.

“Sedert 2015 sy kop uige-steek het, het ek 38mm gemeet en vanoggend val die druppels weer. Die vooruitsigte lyk belowend en die boere is verlig en dankbaar.”

Hendrik Botha wat in die Roedtan-suid omgewing boer, is ook opgewonde oor die groot hoeveelhede reën wat voor Kerstyd uitgesak het. Hy is positief dat daar nog heelwat buie gaan uitsak.

“In sekere dele is daar meer as 200mm reën gemeet. Vanoggend het ek 8mm gemeet en die vooruitsig vir nog reën lyk goed. Die reën het betyds gekom en die gebied wat baie droog was, is nou pragtig. Daar is reeds rondom die feestyd sonneblomme begin plant.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version