Klapper-fiasko in Louis Trichardt lei tot chaos

Inwoners van Rooibokstraat sê hulle is baie ongelukkig oor die wyse waarop vuurwerke en klappers vanuit die park in die straat geskiet is op 31 Desember en 1 Januarie.

LOUIS TRICHARDT – Inwoners van Rooibokstraat sê hulle is baie ongelukkig oor die wyse waarop vuurwerke en klappers vanuit die park in die straat geskiet is op 31 Desember en 1 Januarie.

Fanie Otto vertel dat mense die park gebruik het as basis om hul vuurwerke en klappers af te skiet om die Nuwejaar te vier. Hy sê die feesvieringe het handuit geruk en tot na 03:00 aangehou.

“Die mense wat die vuurwerke vanuit die park geskiet het, het my en ander inwoners se erwe as toilette gebruik. ‘n Buurman het die polisie gebel, maar die polisie het gesê hulle kan niks aan die saak doen nie,” vertel hy.

Otto sê dieselfde buurman het aan die polisie verduidelik dat die mense hul vuurwerke in die huise om die park vasskiet en dat hulle bang is die huise slaan aan die brand.

‘n Inwoner van Rooibokstraat sê hulle het verlede jaar in Julie dieselfde tipe probleme ondervind het tydens die Louis Trichardt-skou.

“Die skougronde is net oor-kant hierdie park geleë en tydens die skou het skougangers ook ons erwe as toilette gebruik. Die partytjies het deur die nag aangehou in die park oorkant ons huis. Die musiek en lawaai was oorverdowend en die partytjiegan-gers het die park in ‘n baie slegte toestand agtergelaat. Die rommel het oral rondgelê,” sê hy.

Ander inwoners van Louis Trichardt met wie Review gepraat het, sê hulle is gekant teen die skiet van vuurwerke en klappers in die dorpsgebied.

“Vuurwerke en klappers moet heeltemal verban word. Of dit nou 19:00 of 04:00 is, vuurwerke en klappers wat geskiet word veroorsaak probleme. Veral die diere kry baie swaar,” sê Maré van der Merwe.

Elizma Pohl is ook ongelukkig oor die hoeveelheid klappers en vuurwerke wat oor nuwejaar in Louis Trichardt afgevuur is.

“Dit het soos ‘n slagveld geklink. As mens kyk na hoeveel troeteldiere weggeraak het in hierdie tyd omdat hulle van die geraas af probeer wegkom het, is dit duidelik dat ons hier ‘n probleem het.

“Verban vuurwerke en klappers heeltemal in die dorp,” sê sy.

FC de Beer sê vuurwerke en klappers moet geheel en al verban word, omdat hy die diere wat ly onder die geraas baie jammer kry.

Konst. Irene Radzilane, woordvoerder van die Makhado polisiestasie, sê munisipale verordeninge wat vuurwerke- en klappergebruik reguleer, word deur die munisipaliteit toegepas.

“Die polisie help wel om die skiet van vuurwerke te kontroleer, maar die munisipaliteit is die verantwoordelike party.

“Geen persoon word toegelaat om vuurwerke of klappers in residensiële gebiede af te vuur nie.

“Vuurwerke mag wel in parke afgevuur word, maar onder streng toesig,” sê sy.

“Die polisie was nie bewus van enige vuurwerke wat in die park in Rooibokstraat afgevuur is nie.”

Radzilane sê inwoners met inligting oor die onwettige skiet van vuurwerke sonder toesig moet asseblief die Makhado polisiestasie kontak by (015) 519 4307.

Review het probeer om die munisipaliteit se woordvoerder, Louis Bobodi, te kontak vir kommentaar oor die saak, maar teen druktyd was geen kommentaar nog beskikbaar nie.

Exit mobile version