Tegnici ken motors binne én buite

Mannetjie Bekker en Quintin Jacobs is beide motortegnici in diens van BB Polokwane Nissan.

POLOKWANE – Die motorindustrie het die afgelope paar dekades met rasse skrede vooruitgegaan.

In hierdie tyd het enjins ‘n gedaanteverwisselling ondergaan; van meganiese werkesels tot elektroniese wonderwerke.

Omdat vandag se motorenjins soveel elektroniese komponente en rekenaarsagteware bevat, is vandag se motortegnici kenners op verskeie gebiede. Hulle werk met die mees gesofistikeerde toerusting en moet ten alle tye op hoogte bly van die nuutste ontwikkelings en ontwerpe in die motormark.

Mannetjie Bekker en Quintin Jacobs is beide motortegnici in diens van BB Polokwane Nissan.

Bekker vertel hy is al 22 jaar lank in die motorbedryf. Hy sê hy het van dag een af vir BB Polokwane Nissan gewerk en is baie gelukkig om by so ‘n gevestigde en gerespekteerde motorhandelaar te werk.

Jacobs sê hy het sy ambagskap by BB Polokwane Nissan voltooi, waarna hy vir ‘n paar jaar vir ‘n ander onderneming gewerk het. Deesdae is hy terug in die saal by BB Polokwane Nissan waar hy en Bekker ‘n baie goeie span maak.

Bekker sê die motorbedryf het drasties verander in die 22 jaar wat hy met motors gewerk het.

“Vandag verskil motorherstelwerk 100% van die tyd toe ek my vakmanskap begin het. Die voertuie van vandag is baie meer elektronies aangepas. Indien jy nie die regte toerusting tot jou beskikking het nie, sal jy nie die voertuig kan herstel nie,” verduidelik hy.

Hy sê die mees gesofistikeerde model waarmee hy tot dusver te doene gekry het is die Infinity G37 Coupe.

“Hierdie motor het 22 rekenaarstelsels wat die enjin beheer en die motor se dienslewering beïnvloed. Jy moet weet wat jy doen wanneer jy aan hierdie tipe model werk.”

Beide Bekker en Jacobs is gekwalifiseerde Infiniti-tegnici.

“Ons gaan gereeld op kursusse omdat die tegnologie elke dag ontwikkel en dit noodsaaklik is vir tegnici om op hoogte bly van die jongste verwikkelinge. Mens kan nooit terugsit en dink jy weet nou genoeg nie,” vertel Bekker.

Jacobs sê hulle is ‘n span van 10 tegnici wat saamwerk by BB Polokwane Nissan en dat spanwerk die sleutel tot hulle sukses is.

“Ons werk as ‘n span en niks is meer bevredigend as wanneer ons ‘n probleem saam kan oplos nie,” sê hy.

Bekker raai voertuigeienaars aan om altyd hul voertuie na gemagtigde handelaars te neem indien hulle probleme ondervind.

Hy verduidelik dat die handelaars die heel nuutste toerusting aanhou om kwaliteit herstelwerk te verseker.

Exit mobile version