Onselfsugtig in die ergste pyn

Sedert Henda Nel (19) verlede jaar met limfoomkanker gediagnoseer is, het sy elke dag 'n brief aan God in haar dagboek geskryf.

POLOKWANE – Sedert Henda Nel (19) verlede jaar met limfoomkanker gediagnoseer is, het sy elke dag ‘n brief aan God in haar dagboek geskryf.

“In een van hierdie briewe het sy God gevra om haar kanker erger te maak sodat Hy haar kan gebruik om ander mense te help,” het haar ma, Sandra Lubbe, aan Review vertel.

Sandra het vertel dat Henda nog altyd ‘n aktiewe meisie was. Sy sou trouens op ‘n stadium na die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gaan, maar het besluit om eerder by die Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong in te skakel omdat daar soveel meer sportgeleenthede was.

“Wanneer sy naweke en vakansies by die huis was, het haar vrolike lag altyd deur die huis weerklink,” het Sandra gesê.

Henda is verlede jaar in Februarie, in haar gr. 12-jaar, met kanker gediagnoseer.

Sy het steeds positief gebly en haar lag het nooit stil geraak nie, selfs deur die heel moeilikste tye, het haar ma vertel.

Na behandeling het Henda se dokters in Junie verlede jaar gesê die kanker was in remissie. In Oktober het sy ongewone knoppe op haar kop gevoel en weer die dokters gaan raadpleeg. Haar dokters het haar met leukemie gediagnoseer en, in November, met breinkanker.

“Die dokters sê Henda het T-sel akute limfatiese leukemie, ook genoem T-cell ALL. Hierdie tipe kanker sluit die beenmurg, brein, senuweestelsel en limfstelsel in,” het Sandra verduidelik.

Net ‘n week voor Henda se finale gr. 12-eksamen is sy weer in die hospitaal opgeneem. Die dokters het met ernstige behandeling begin en sy kon nie haar eind-eksamen skryf nie.

Sandra het vertel dat Henda deesdae steeds baie siek is en dat sy dringend ‘n beenmurgoorplanting moet kry.

Sy het verduidelik dat hulle dringend op soek is na ‘n skenker, maar dat die toetse baie duur is en die mediese fonds nie die volle koste vir die toetse dek nie.

“Henda is ‘n kranige ringbalspeler en die ringbalgemeenskap van Polokwane het besluit om ‘n pretdag te reël op Saterdag 31 Januarie om geld in te samel vir potensiële beenmurgskenkers se toetse.

“Verskeie ringbalspanne sal mekaar uitdaag en daar sal ook stalletjies, ‘n biertuin en ‘n dans na die tyd wees,” het Sandra gesê.

Louwrenzia Swart, ‘n vriend van die familie en een van die organiseerders van die pretdag, het gesê alle geld wat ingesamel word, sal vir Henda se beenmurgoorplanting gaan.

“Ons daag alle besighede van die stad uit om mekaar uit te daag in die ringbalkompetisie.

“Die stalletjies, biertuin en dans sal ook pret verskaf vir die hele gesin,” het Louwrenzia verduidelik.

Sy het ook vertel hoe Henda ander ringbalspelers van die stad geïnspireer het met haar positiewe houding.

“Vir Henda is haar kanker nie ‘n siekte nie, maar eerder ‘n toestand. Afgevaardigdes van Reik na ‘n Droom het vir haar gevra wat haar grootste droom was en sy het gesê sy wou graag ‘n kind help wat deur ‘n hond gebyt is, of iets vir ‘n kinderhuis doen. Sy is heeltemal onselfsugtig.”

Sandra het ook vertel hoe spesiaal Henda is.

“My kind is ‘n vrye gees. Mens kan dit aan haar kleredrag sien. Vir haar maak dit glad nie saak of haar uitrustings bymekaar pas of nie.

“Sy is ook glad nie skaam oor haar hare wat weens die kankerbehandeling uitgeval het nie. Sy is ‘n jong meisie met ‘n ou gees.”

Henda het vertel dat sy drie dinge wou vermag.

“Ek wil my matrieksertifikaat kry, ‘n werk kry en ‘n beenmurgoorplanting kry sodat ek gesond kan word.

“Ek wil baie graag ‘n verpleegster word, maar op die oomblik moet ek daardie droom eers eenkant sit,” het sy gesê.

Sy het aan Review gesê dat haar ma, pa Gert, stiefpa Dirk en ander familielede haar ondersteun en deur hierdie moeilike tyd dra.

Vir meer inligting oor die pretdag om geld in te samel vir Henda se beenmurgoorplanting, kontak vir Louwrenzia by 071 957 0491 of vir Sandra by 082 857 1401.


Pretdag om geld in te samel vir kankerlyer

Exit mobile version