Mev. Polokwane se pakke skryfplesier

Mev. Polokwane, Loudine Redelinghuys, het skryfbehoeftes ingesamel wat sy verlede Woensdag aan drie instansies geskenk het.

POLOKWANE – Môre (Woensdag) sal leerders in Limpopo terug stroom skool toe na die lang somervakansie, gereed vir die nuwe skooljaar.

Net soos ‘n soldaat nie sonder ‘n vuurwapen ‘n veldslag kan aandurf nie, net so kan ‘n leerder nie die nuwe skooljaar aandurf sonder skryfbehoeftes nie.

Mev. Polokwane, Loudine Redelinghuys, sê leerders wat in die Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging se sorg is asook leerders wat in Kindersorg se plek van veiligheid woon en leerders van Noddy’s Playground in Polokwane, het nie die nodige skryfbehoeftes gehad om die nuwe skooljaar aan te durf nie.

Redelinghuys sê sy het die behoefte raakgesien en besluit om iets omtrent die saak te doen.

Sy het skryfbehoeftes ingesamel wat sy verlede Woensdag aan hierdie drie instansies geskenk het.

Sy verduidelik dat die skryfbehoeftes items soos merkerpenne, pennesakkies, uitwitting, gom, verf en ander noodsaaklike skoolbenodighede ingesluit het.

Lorette Bosch, maatskaplike werker van die kinder- en gesinsorgvereniging, sê die skenking is baie welkom.

“Dit is ‘n wonderlike geskenk en ons waardeer dit ongelooflik baie. Die leerders het almal nuwe skryfbehoeftes nodig en dit is lekker vir hulle om die nuwe jaar met nuwe skoolbenodighede te begin,” sê sy.

Redelinghuys sê sy sou nie soveel leerders kon help sonder die wonderlike borgskappe van Data Inn Office National in Polokwane en al die plaaslike Spar-winkels nie.

“Baie dankie aan al die borge. Saam kon ons ‘n groot verskil maak,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version