NewsSchools

Esté fokus op ander

Esté Roberts (18) is een van Curro Heuwelkruin Hoërskool se top akademiese presteerders van verlede jaar se gr. 12-groep en spog met sewe onderskeidings agter haar naam.

POLOKWANE – Esté Roberts (18) is een van Curro Heuwelkruin Hoërskool se top akademiese presteerders van verlede jaar se gr. 12-groep en spog met sewe onderskeidings agter haar naam.

Sy sê haar gunsteling vakke was biologie en kuns.

“Die menslike liggaam het my nog altyd gefassineer en dit is ongelooflik hoe kompleks die mens eintlik is. Alhoewel kuns ‘n uiters veeleisende vak is, het dit my geleer hoe om te prioritiseer en om geduldig te wees. Die hele kreatiewe proses is wonderlik en ek geniet dit om my op dié manier uit te leef,” sê Esté.

Toe Esté sewe jaar oud was, wou sy graag ‘n onderwyser word. “Ek wou met mense werk en ander help,” sê sy.

Vanjaar sal sy by die Universiteit van Pretoria inval waar sy arbeidsterapie sal studeer.

Sy sê dit is vir haar baie belangrik om ‘n positiewe verskil in die samelewing te maak en sy wil graag mense help om hulle volle potensiaal te bereik.

Sy vertel om akademie met buitemuurse aktiwiteite te balanseer was ‘n uitdaging, maar sy het baie lewenslesse in die proses geleer.

“Ek het grootliks deur middel van my kuns tot die besef gekom dat mens alles in die lewe moet prioritiseer. Alhoewel ek graag aan alles wou deelneem, moes ek besef dat dit my hele toekoms kon beïnvloed. Dus het ek in my finale skooljaar baie afgeskaal. Ek het besluit om nogsteeds aan sekere aktiwiteite deel te neem, maar dat my akademie voorkeur kry.”

Sy glo in die voordele van sportdeelname. “Ek sal myself nie juis ‘n vreeslike sportiewe persoon noem nie, maar sport leer mens soveel lewenslesse en ‘n gesonde liggaam help om ‘n gesonde uitkyk op die lewe te kweek. Mens kan nie deur die lewe gaan sonder om nuwe goed te probeer nie,” verduidelik sy.

Esté bring hulde aan haar vriendin, Nicole Botha, wat verlede jaar in ‘n motorongeluk dood is.

“Sy het my geleer dat mens nie daarop moet fokus om heeltyd beter as ander te wees nie, maar dat jy eerder moet gee. Sy het my ook geleer dat mens nie net kan terugsit en wag dat iets moet gebeur nie, maar dat jy geleenthede moet skep.”

Esté vertel haar ma ondersteun haar in alles wat sy aanpak. “Sy het my help besef dat ek my passie ten volle sal kan uitleef as arbeidsterapeut.

“Ek het ook toegewyde onderwysers gehad wat regtig omgegee het oor elke leerder. Die onderwysers doen ongelooflik baie moeite. Hulle kom ook dadelik agter wanneer mens bietjie moeg en moedeloos is en sal letterlik enige tyd van die dag met enige probleem help. Hulle het ons elkeen definitief gedruk om ons volle potensiaal te bereik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button