Matriek-vreugde

DIE vreugdevure het Dinsdagoggend by Hoërskool Piet Potgieter (HPP), Waterberg High School en Hoërskool Hans Strijdom hoog gebrand met talle matriekleerders wat na die lang wag hul uitslae kom afhaal het.

MOKOPANE – DIE vreugdevure het Dinsdagoggend by Hoërskool Piet Potgieter (HPP), Waterberg High School en Hoërskool Hans Strijdom hoog gebrand met talle matriekleerders wat na die lang wag hul uitslae kom afhaal het.

Jan Gerhard Venter, onderhoofseun van HPP in 2014, het nie genoeg vingers gehad om al sy onderskeidings te tel nie. Hy spog met 11 onderskeidings. Op sy hakke volg Kirsten Potgieter wat agt onderskeidings opgeraap het. Haar tweeling sus, Jaclyn het vier onderskeidings.

Dedré Uys, hoofmeisie van 2014, se glimlag is breed oor die ses onderskeidings wat sy behaal het. Johan Senekal het ook ses onderskeidings verwerf en Estee Pretorius vyf. Rudolf Jacobs, Obed Malatji en Stefany Seymore het almal vier onderskeidings.

Jas Hansen, skoolhoof, is tevrede met die uitslae van die 112 leerders wat verlede jaar die eindeksamen afgelê het. Die skool het ‘n 97,5% slaagsyfer. Daar is 134 onderskeidings ingeryg. Altesaam 59% van die leerders slaag met universiteitstoelating. terwyl 38,5% toelating het vir studies in diplomarigtings.

By die Waterberg High School was daar breë glimlagte, sugte van verligting en trane van blydskap. Die skool se top presteerder is Dipuo Mashele wat vyf onderskeidings gekry het. Die skool het soos verlede jaar ‘n 100% slaagsyfer met 58% wat universiteitstoelating het en 36% wat toelating vir diplomakursusse gekry het.

Hanru de Vos is Hoërskool Hans Strijdom se top uitblinker met agt onderskeidings. Die skool het ‘n slaagsyfer van 94% en het 47 vakonderskeidings ingeoes. Altesaam 39% van die matrieks het universiteitvrystelling en 50% het vrystelling vir ‘n diploma behaal.

Die Mokopane English Combined School (MECS) het ook ‘n 100 % slaagsyfer. Nicolai van Niekerk het die meeste onderskeidings (ses) behaal. Altesaam 11 leerders het die Onafhanklike Eksamen Raad se eksamen afgelê en almal het universiteitstoelating gekry. Dit is die derde jaar in ‘n ry dat die skool met ‘n 100% slaagsyfer spog, sê die adjunkhoof, Louis Cilliers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version