Werno reik na die skalpel

In gr. 1 was Werno Katzke se grootste droom om 'n helikoptervlieënier te word, maar noudat hy klaar is met sy skoolloopbaan, staan hierdie 18-jarige se kop na die geneeskunde toe.

POLOKWANE – In gr. 1 was Werno Katzke se grootste droom om ‘n helikoptervlieënier te word, maar noudat hy klaar is met sy skoolloopbaan, staan hierdie 18-jarige se kop na die geneeskunde toe.

Werno sal vanjaar by die Universiteit van Pretoria se mediese fakulteit inskryf en die eerste stap neem in sy pad om ‘n dokter te word nadat hy verlede jaar onder die top drie akademiese presteerders aan Curro Heuwelkruin Hoërskool gematrikuleer het met sewe onderskeidings.

Hy vertel aan Review dat lewenswetenskappe sy gunsteling vak was en sê die interessante onderwerpe het lewe gekry danksy sy onderwyser, Manie Raath, se lesse.

Werno sê hy het tennis en hokkie gespeel en ook aan atletiek deelgeneem.

“Ek het nie aan enige ander buitemuurse aktiwiteite deelgeneem nie, maar het gereeld gaan draf en tyd saam met my vriende deurgebring.

“Ek glo dit is belangrik om ‘n gebalanseerde lewensstyl te handhaaf om sukses te behaal en om gesond te bly.

“Enige aktiwiteite wat jy geniet, veral oefening, is ‘n belangrike deel van ‘n mens se daaglikse roetine,” sê hy.

Hy vertel sy vriende speel ‘n belangrike rol in sy ondersteuningstelsel.

“Ek kon altyd op hulle staatmaak vir raad en hulp. Die onderwysers by ons skool het ook baie bygedra tot my sukses.”

Werno sê hy het gemeenskapswerk gedoen verlede jaar.

“Ek het klere ingesamel in ons buurt en dit aan liefdadigheid geskenk. Ek het ook gehelp by die Crown-diererehabilitasiesentrum en die Martha Hofmeyr Ouetehuis.”

Exit mobile version