Carla mik na ligte, kamera en aksie

Carla Koen (18) spog met sewe onderskeidings in vanjaar se matriekuitslae. Haar gunsteling vakke is lewenswetenskappe en dramatiese kunste.

POLOKWANE – Carla Koen (18) spog met sewe onderskeidings in vanjaar se matriekuitslae.
Haar gunsteling vakke is lewenswetenskappe en dramatiese kunste.

“Lewenswetenskappe was baie interessant. Ek was mal daaroor om te leer van hoe wonderlik die menslike liggaam funksioneer. Ons onderwyser, Manie Raath, se klasse was altyd wonderlik.
“Dramatiese kunste was waar ek my kreatiewe sy kon uitleef. Drama is my passie en op die verhoog het ek myself gevind. Ons drama-onderwyser, Nicole Senekal, het my baie geleer en sy het my daagliks geïnspireer. Drama was die periode waarin ek ontlaai het,” sê sy.

Carla se vriende en onderwysers sê♪ hulle sal haar rol as Liewe Heksie in een van die skool se verhoogproduksies nooit vergeet nie. Ook was sy medeskrywer van verskeie toneelstukke.
Toe sy in gr. 1 was, wou sy ‘n veearts word, maar vanjaar gaan sy filmproduksie aan die Open Window-filmskool in Pretoria studeer.

“Die kursus dek alle aspekte van films en TV-programme insluitend regie, teks, klank en toneelspel,” verduidelik sy.
Carla vertel om gefokus te bly op akademie is nie ‘n baie maklike taak nie.

“‘n Partytjie oor die naweek is baie lekkerder as om vir fisika te leer. Daarom het ek besluit dat ek altyd my beste sal doen. Tog, het ek geleer dat tyd saam met my vriende ook belangrik is asook aktiwiteite wat jou aandag aftrek van skoolwerk, want dit laat jou ontspan en weer kans sien om te studeer.” Van gr. 8 tot 10 het Carla deelgeneem aan atletiek, swem en netbal.

Sy was betrokke by die groentjiekonsert en het aan haar skool se Mosaïk-konsert en die Bosveld Kunstefees deelgeneem. Sy het koor gesing, aan die Kruinie Kunstefees, Nasionale Eisteddfod, ATKV-tienertoneelkompetisie die skool se revue en redenaars-kompetisies deelgeneem.
Carla glo dit is belangrik om deel te neem aan sport en buitemuurse aktiwiteite.

“Sport en kultuur aktiwiteite op skool leer jou baie van jouself. Dit ontwikkel karakter. Dit leer jou om hard te werk en wys hoe harde werk beloon word. Dit is ook goeie stresontlading, trek jou aandag af van skoolwerk en leer jou om in ‘n span saam te werk, ander te aanvaar en kritiek te hanteer.”

Carla sê haar vriendin Nicole Botha, wat verlede jaar in ‘n motorongeluk gesterf het, was haar rolmodel.
Carla se ouers is haar ondersteuningstelsel.

“My ouers was nog altyd daar vir my en my broer het my ook ondersteun,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version